Artikel 10C – die belastingvoordeel wat jy dalk miskyk

 In News

Deur Wilhelm van Deventer
BVSA Robertson

Hoe onbenutte aftreefondsbydraes jou belasting kan verlaag én deel van ’n slim boedelplan kan vorm

Artikel 10C van die Inkomstebelastingwet is een van die mees onderskatte belastinghulpmiddels in die huidige belastingwetgewing. Wat behels dit en waarom is dit so voordelig vir jou?

Artikel 10C maak voorsiening om kwalifiserende annuïteitsinkomste vry te stel van belasting, tot die mate waarin vorige aftreefondsbydraes nie reeds as ’n belastingaftrekking of andersins vir belastingdoeleindes benut is nie.

Dit kan dus beteken dat ’n gedeelte van die annuïteitsinkomste wat jy later ontvang, nie aan normale belasting onderhewig is nie.

Artikel 10C moet saam met Artikel 11F, wat die aftrekking van bydraes tot aftreefondse reguleer, gelees word. Artikel 11F laat ’n aftrekking toe wat onderhewig is aan bepaalde beperkings, waaronder die 27,5%-beperking asook die maksimum jaarlikse aftrekking van R430 000 vanaf die 2027-belastingjaar.

Waar ’n gedeelte van jou aftreefondsbydraes as gevolg van hierdie beperkings nie as ’n aftrekking benut kon word nie, gaan daardie bedrag nie noodwendig vir belastingdoeleindes verlore nie.

Artikel 10C in aksie: ’n praktiese voorbeeld

Gestel jy maak gedurende die 2027-belastingjaar ’n totale bydrae van R1 000 000 tot ’n uittreeannuïteitsfonds.

Op grond van jou belasbare inkomste en die beperkings wat ingevolge Artikel 11F op aftreefondsbydraes van toepassing is, kan jy in hierdie voorbeeld slegs R200 000 van die R1 000 000-bydrae as ’n aftrekking teen jou belasbare inkomste vir die 2027-belastingjaar benut.

Die onbenutte bedrag van R800 000 word dan oorgedra na jou 2028-aanslagjaar.

Gestel jy tree daarna af of bereik die toepaslike ouderdom volgens die fondssreëls en begin inkomste uit ’n kwalifiserende annuïteit ontvang wat met jou aftreefonds verband hou.

Ingevolge Artikel 10C sal hierdie inkomste wat jy trek, eers aangewend word teen die onbenutte annuïteitsfondsbydraes van R800 000, alvorens dit belasbaar is in jou eie naam.

Indien jy dus R100 000 per jaar uit die annuïteit trek, sal jou inkomste uit hierdie annuïteitsfonds vir agt jaar lank belastingvry wees, totdat die onbenutte bydraes opgebruik is.

Waarom is Artikel 10C so waardevol?

Die belangrike beginsel is dat ’n aftreefondsbydrae wat jy weens die jaarlikse belastingbeperkings nie onmiddellik as ’n aftrekking kon benut nie, nie noodwendig sy belastingwaarde verloor nie.

Daardie onbenutte bydraes kan later, onderhewig aan die vereistes van Artikel 10C, gebruik word om kwalifiserende annuïteitsinkomste van normale belasting vry te stel.

Jy kry dus nie noodwendig die volle belastingvoordeel wanneer jy die geld tot die aftreefonds bydra nie, maar die onbenutte gedeelte kan steeds later ’n belastingvoordeel oplewer wanneer jy inkomste uit die kwalifiserende annuïteit ontvang.

Wat beteken dit vir jou boedel?

Die moontlike inkomstebelastingvoordeel van Artikel 10C is egter nie die enigste rede waarom nie-aftrekbare aftreefondsbydraes aandag verdien nie. Die interaksie tussen hierdie bydraes, Artikel 10C en die boedelbelastingreëls kan ook ’n belangrike rol in boedelbeplanning speel.

Fondse wat in uittreeannuïteite of aftreefondse gehou word, vorm in die meeste gevalle nie deel van ’n oorledene se boedel vir boedelbelasting nie.

In die verlede het mense groot bedrae geld voor hul afsterwe na aftreefondse oorgeplaas om te vermy dat boedelbelasting hierop betaal word.

SARS het hierdie praktyk geïdentifiseer en wetgewing gewysig om hierdie metode van boedelbelastingvermyding te bekamp.

Enige onbenutte aftreefondsvoordele (bv. die R800 000 waarna hierbo verwys word) word nou in die meeste gevalle as ’n geagte bate in jou boedel ingesluit. Die boedel kan dus boedelbelasting betaalbaar hê op die gedeelte van die aftreefondsbydraes wat nog nie ingevolge Artikel 11F of Artikel 10C benut is nie.

Die bydraes tot uittreeannuïteite of aftreefondse om jou boedelbates vir boedelbelasting te verklein, is dus niks nuut nie, maar dit is belangrik om te weet dat SARS die onbenutte aftrekkings as bates sal insluit vir die berekening van die boedel se boedelbelasting.

Artikel 10C speel ’n belangrike rol om hierdie onbenutte bydraes vinniger te benut en dit lei daartoe dat belastingbetalers se geagte bates in hul boedels teen ’n vinniger tempo verminder.

Annuïteite, trusts en Artikel 10C

Dit gebeur gereeld dat ’n trust ’n eiendom of ander bate verkoop en dat ’n beduidende kapitaalwins met die verkoop daarvan ontstaan.

’n Algemene voorstel in so ’n geval is dat die kapitaalwins deur die trust aan RSA-inwonerbegunstigdes toegedeel word. Ingevolge die huidige wetgewing word hierdie kapitaalwins dan belas by die begunstigdes, gewoonlik teen laer belastingkoerse as wat die geval sou wees indien die kapitaalwins by die trust belas word.

Hierdie toedeling van uitgekeerde kapitaalwins vestig in die meeste gevalle ’n bate by die begunstigde terwyl dit ‘n eis teen die trust vestig.

Die uitkerings verminder dus die boedelbelastingvoordele wat met die oprigting van die trust gepaard gaan, aangesien die kapitaalgroei van die trustbate nou weer ’n bate by die begunstigde is.

Dit is hier waar aftreefondsbeplanning en Artikel 10C moontlik ’n verdere rol kan speel. Dit kan veral relevant wees waar ’n begunstigde ’n beduidende kapitaalwinsuitkering ontvang het, ’n bydrae tot ’n uittreeannuïteitsfonds kan maak en die aftreeouderdom nader of reeds bereik het.

Praktiese voorbeeld: ’n trust verkoop ’n plaas

Gestel ’n trust besit slegs een bate – ’n plaas. Die plaas word verkoop en die plan is dat die begunstigdes van die opbrengs van die plaas se verkope moet leef.

Met die verkoop van die plaas deur die trust is daar ’n kapitaalwins gerealiseer. Die kapitaalwins word in hierdie geval na begunstigdes, wat reeds 60 jaar oud is, uitgekeer.

In die meeste gevalle sal ’n finansiële beplanner voorstel dat die begunstigdes in effektetrusts of aandele belê waaruit hulle dan maandeliks geld onttrek.

Ons voorstel sou wees dat ’n gedeelte van die opbrengs van die plaas se verkope in die begunstigde se naam in ’n uittreeannuïteitsfonds geplaas word, byvoorbeeld in dieselfde fondse of effektetrusts waarin die trust andersins sou belê.

Die bedrag ter sprake moet voldoende wees om die uitgekeerde kapitaalwins aan die begunstigde terug te betaal sodat die trust nie meer enige fondse aan die begunstigde verskuldig is nie.

Artikel 10C se vrystelling kan later benut word om inkomste uit hierdie annuïteit belastingvry te onttrek, totdat die totale uittreeannuïteitsfondsbydrae aangewend is en die geagte bate in die begunstigde se naam tot nul verminder is.

Wat is die voordele van hierdie benadering?

  • Inkomstevoordeel. Die begunstigde ontvang belastingvrye inkomste uit die annuïteit totdat die onbenutte bydraes ingevolge Artikel 11F en Artikel 10C ten volle aangewend is.
  • ’n Kleiner geagte bate. Die geagte bate (onbenutte bydraes) word mettertyd tot nul verminder deur die toegewings ingevolge Artikels 11F en 10C. Boedelbelasting op die aanvanklike annuïteitsfondsbydrae word dus mettertyd tot nul verminder.
  • Beleggingsgroei. Die groei in die beleggingswaarde van die annuïteit vorm nie deel van die begunstigde se boedel nie en is dus vrygestel van boedelbelasting.
  • Begunstigdebeplanning. Ander begunstigdes van die trust, selfs oorsese begunstigdes, kan moontlik ook as begunstigdes van die uittreeannuïteit benoem word. Dit kan meer belastingvriendelik wees as om uitkerings vanuit ’n trust na oorsese begunstigdes te maak.

Deel van ’n omvattende belasting- en boedelplan

Artikel 10C kan dus in gepaste omstandighede ’n waardevolle belasting- en boedelbeplanningsinstrument wees. Dit sal egter nie vir elke trust of begunstigde die korrekte oplossing wees nie, aangesien elke trust se omstandighede verskil.

Waar ’n trust ’n groot bate realiseer, kapitaalwinste aan RSA-inwonerbegunstigdes toedeel en daardie begunstigdes oor voldoende likiditeit beskik om betekenisvolle aftreefondsbydraes te maak, behoort die moontlike toepassing van Artikels 11F en 10C as deel van die totale belasting- en boedelplan oorweeg te word.

Recent Posts