CHAOS BY DIE MEESTERSKANTOOR

 In News, Nuus

Maart 2021

Reghardt Draper, BVSA Konsult

Voordat Covid-19 die wêreld onherroeplik verander het, kon mens die Meesterskantoor vergelyk met ’n geroeste fiets met pap wiele. Stadig, min tot geen reaksie en op die rand van ineenstorting. Die diens was beslis nie iets om oor huis toe te skryf nie , maar met die regte hoeveelheid inspanning, bloed, sweet, konstante smekery en trane, was die werk uiteindelik gedoen. Nadat Covid-19 ons howe betree het, het die diens by die Meesterskantoor tot ’n laagtepunt gedaal: die Meesterskantoor is nou meer vergelykbaar met ’n fiets sonder wiele – totaal nutteloos.

Wanneer ’n Suid-Afrikaanse burger sterf, moet die boedel by een van die vyftien Meesterskantore in die land aangemeld word. Sodra die instansies (soos bv. banke, versekeringsmaatskappye, ens) verneem van die afsterwe van die oorledene, kom byna als tot stilstand. Afhanklikes en familielede het geen toegang tot enige fondse voordat die boedel afgehandel is nie en loop dus die gevaar om sonder geld agter te bly. Dit is dus absoluut noodsaaklik dat die Meesterskantoor vinnig en effektief moet funksioneer om te verseker dat niemand hul vasloop in ’n nimmereindigende regterlike administratiewe proses nie. Ongelukkig is dit tans nie die geval nie. E-posse en telefoonoproepe na die Meesterskantoor word eenvoudig net geïgnoreer en formele klagtes kry geen aandag nie.

Benewens die bogenoemde, het die Staatskoerant ook skielik tot ’n stilstand gekom weens tegniese probleme. Volgens wetgewing moet elke boedel in die Staats- en plaaslike koerant, in die omgewing waar die oorledene woonagtig was, geadverteer word. Hierdie proses moet ’n tweede keer herhaal word voordat die boedel afgehandel kan word. Sonder dat die Staatskoerant gepubliseer word, kan niks anders gepubliseer word nie en dit veroorsaak verdere vertragings in die boedeladministrasieproses.

Uit die bogenoemde is dit duidelik dat ons in onseker tye leef en dat die funksionering van die Meesterskantoor ernstige aandag nodig het, veral met betrekking tot die agterstande wat deur die dak skiet. Hopelik sal die Meester die voorstelle wat deur regs- en fidusiêre praktisyns geopper is, in ag neem om eerder van elektroniese platforms gebruik te maak om dokumente te stuur en te ontvang. Dit sal sake aansienlik bespoedig en die risiko van verlore lêers verminder.

Ons fidusiêre span by BVSA Konsult het jare se ondervinding in boedelbereddering en is professioneel toegerus om u te help met enige aangeleenthede wat daarmee verband hou. Kontak gerus enige van ons fidusiêre/finansiële praktisyns/adviseurs vir ’n kwotasie en kundige advies.

Reghardt Draper FPSA®
Adv. Dip ETA (UFS), LLB, LLM (NWU), PG Dip FP

Recent Posts
Verified by MonsterInsights