Hoe verklaar ek korttermyn wisselvalligheid in aandeelpryse – deur Guillaume Oberholzer
Q3Y19
Gedurende die derde kwartaal het die JSE gedaal met 5,7%, eiendomsaandele is 3,76% laer en beleggers se moed en geduld het tot in hulle skoene gesak. Hierdie was verseker ‘n kwartaal om te vergeet. Vir die jaar tot 30 September is die JSE egter 7,53% positief en eiendomsaandele 1,34% positief.
Vir die afgelope 12 maande is die JSE slegs 1,54% positief en eiendomsaandele 2,51% negatief.
Bogenoemde dui op ‘n wisselvallige en onseker beleggingsomgewing. Die uitdaging is nie beperk tot Suid-Afrika nie, maar is tans wêreldwyd ‘n uitdaging. Gelukkig skep elke uitdagings geleenthede … Ek verwys graag weer na my skrywe van Desember 2018:
“The time to buy is when there’s blood in the streets.”
Baron Rothschild, ‘n 18de-eeuse edele, het aandele gekoop tydens die paniek op wêreldmarkte na die Waterloo-veldslag teen Napoleon en ‘n fortuin gemaak. Hy het bogenoemde gesê, maar ook daarby gehou.
Hoe lyk daardie geleenthede?
Baie maatskappye op die JSE se winste die laaste paar jaar het lae, enkelsyfer persentasiepunte gestyg of dieselfde gebly as gevolg van die moeilike ekonomiese omstandighede en huiwering om uit te brei in die uitdagende politieke klimaat.
Ten spyte van gelyke of stygende winste is baie van die aandeelpryse beduidend laer. Die wiskunde agter die daling is as volg:
Beleggers koop winste. Wins per aandeel speel ‘n rol in die prys per aandeel wat ‘n belegger bereid is om te betaal.
Die formule lyk soos volg: Prys per aandeel gedeel deur wins per aandeel = prysverdienste-verhouding (PV). Die PV wat ‘n belegger bereid is om te betaal vir wins, bepaal die prys van die aandeel, want die som word gemaak op ‘n werklike of beraamde wins. Die veranderlike in die verhouding is die prys per aandeel.
Voorbeeld: Maatskappy A se beoogde wins vir die finansiële jaar is R1 per aandeel. Belegger B is bereid om ‘n PV van 15 te betaal en koop dus ‘n aandeel teen R15. Die rede vir die PV van 15 is dat maatskappy A ‘n kompeterende voordeel het ten opsigte van tegnologie en produksiekoste van hulle produk teenoor hulle kompetisie. Belegger B se opbrengs wat hy koop is 1/15 = 6,67%. Sou die wins sterk groei en verhoog na R2 per aandeel, is die opbrengs 13,33%. Indien die PV steeds 15 geag word deur kopers, sal die aandeelprys verdubbel na R30.
Die ekonomiese omstandighede verswak egter vinnig en daar is vrees oor moontlike heffings op uitvoere van maatskappy A se produk. Dit kan hulle winsgroei negatief beïnvloed.
Belegger B wil sy aandeel verkoop, maar die kopers is net bereid om te koop teen ‘n PV van 10 vanweë die onsekerheid en moontlike risiko. Sou belegger B die aanbod aanvaar, sal die prys R10 wees en ‘n verlies van 33,33% realiseer. Dit ten spyte van die wins wat steeds R1 gaan wees in die huidige finansiële jaar.
Wat om te onthou in tye soos hierdie …
Beleggings gaan oor die kwaliteit van die maatskappy(e) waarin jy belê, hulle vaste koste-struktuur vir wanneer transaksies skaars is en die hoeveelheid skuld wat hulle moet diens.
Aandelepryse kan vinnig daal, maar dit kan net so vinnig weer styg (bogenoemde PV som werk ook as vooruitsigte verbeter).
Q4Y19 Wat om te verwag?
Wisselvalligheid, wisselvalligheid en onsekerheid. Brittanje en Amerika sal sorg dat dit die oorheersende tema is vir die res van die jaar.
Amerika (uitgesluit hulle president) is huiwerig om rentekoerse te sny en dit gaan minder stimulasie vir die wêreldekonomie beteken.
Die laaste kwartaal van die jaar is wêreldwyd ‘n spandeerkwartaal. Jaareindfunksies en partytjies, Kersfees en vakansies. Desember 2018 se spandering was egter teleurstellend en ons kan dieselfde verwag vir Desember 2019. Dit kan baie kleinhandel aandele negatief beïnvloed.
Op ‘n positiewe noot: Suid-Afrika kry nou ‘n elektroniese visumstelsel wat toerisme ‘n hupstoot kan gee in 2020. Toerisme is ‘n uitstekende geleentheid vir SA om nuwe geld die land in te kry en werk te skep.
Dit tesame met broodnodige reën regoor Suid-Afrika, vir landbou, menslike gebruik en produksie, asook politieke stabiliteit kan 2020 ‘n beter ekonomiese jaar as 2019 maak.
Kontak gerus een van ons kundige adviseurs indien u verdere inligting verlang.
Bostaande is slegs ter inligting en is geensins advies nie. Boshoff Visser Konsult Edms. Bpk. raai alle lesers aan om met ‘n kundige finansiële adviseur in verbinding te tree voordat enige besluite geneem word.