Mike Tyson vs SARS

 In News

Een van my gunstelingaanhalings is die woorde van die voormalige bokskampioen, Mike Tyson:
“Everybody has a plan until they get punched in the mouth.”

Mike Tyson sal waarskynlik nie as die wêreld se grootste filosoof onthou word nie, maar steek daar nie ’n groot waarheid in hierdie woorde nie?

Ons almal het planne. ’n Plan vir môre. ’n Plan vir die einde van die maand. ’n Plan vir die einde van die jaar. En natuurlik daardie plan waarna hulle so graag in werksonderhoude vra – jou vyf- of tienjaarplan.

Maar dan kom die lewe – en soms ook SARS – en deel onverwags ’n paar houe uit.

Soms is dit ligte houe wat vinnig weer herstel. Ander kere is dit ’n hou wat jou totaal onkant betrap. Eers dan besef mens hoe belangrik dit is dat jou planne nie net idees bly nie, maar behoorlik in plek is en beskerm word.

Wanneer SARS aan die deur klop

As rekenmeesters ontvang ons gereeld navrae oor BTW en inkomstebelasting. Dikwels is daar reeds ’n plan of verduideliking voorberei, maar wanneer SARS begin vrae vra, is dit nie altyd voldoende nie.

Ons hoor gereeld vrae soos:

“Ek het ’n kampwa / fiets / karavaan / jaggeweer gekoop — kan ek die BTW eis en dit vir belasting aftrek as ’n besigheidsuitgawe?”

Dikwels word hierdie vrae vergesel van ’n verduideliking oor hoe die item “vir besigheid gebruik gaan word”. Die realiteit is egter dat baie van hierdie uitgawes hoofsaaklik privaat van aard is, en dat SARS nie net op die verduideliking staatmaak nie, maar op die werklike feite, gebruik en bewyse. ’n Goeie storie alleen is nie voldoende om ’n uitgawe vir BTW- of belastingdoeleindes te regverdig nie.

Dieselfde beginsel geld ook vir inkomste en strukture. Wanneer SARS ’n oudit doen, kyk hulle nie net na die verduideliking wat gegee word nie, maar na die onderliggende feite, dokumentasie en werklike transaksies. Indien inkomste nie volledig verklaar is nie, of indien strukture nie ooreenstem met die kommersiële werklikheid nie, sal dit vinnig duidelik word tydens ’n oudit. ’n Verduideliking of voorneme alleen is nie voldoende nie — dit moet ondersteun word deur akkurate rekords en behoorlike administrasie.

Met SARS se toenemende gebruik van tegnologie en data-analise word dit al hoe moeiliker om onvolledige of onakkurate inligting weg te steek.

Dit gaan oor meer as net belasting

Hierdie beginsel geld nie net vir belasting nie.

Baie besighede word aangekoop of begin sonder behoorlike kontrakte, sonder dat die regte strukture in plek is en sonder getekende aandeelhouersooreenkomste. Mondelinge ooreenkomste met jou buurman, ’n sakevennoot of selfs familielede word gemaak, maar dit word nooit formeel op skrif gestel nie. Administrasie raak agter, en belangrike dokumente word uitgestel vir “later”.

Totdat iets gebeur.

Wanneer ’n vennoot uit die besigheid tree, wanneer daar ’n dispuut ontstaan, of wanneer iemand onverwags sterf, raak die gebrek aan behoorlike strukture en dokumentasie vinnig ’n groot probleem.

Dieselfde geld vir persoonlike finansiële beplanning. Is jou testament op datum? Is jou strukture korrek? Of is dit ook iets wat jy beplan om “eendag” te doen?

BVSA se rol

By BVSA help ons kliënte om meer as net planne te hê. Ons help om daardie planne te formaliseer, te struktureer en te beskerm.

Behoorlike belastingnakoming, duidelike besigheidstrukture, opgedateerde administrasie en korrekte dokumentasie verseker dat jou besigheid en jou finansiële toekoms beskerm is – selfs wanneer die onverwagte gebeur.

Want uiteindelik is die beste plan nie net een wat goed klink nie, maar een wat die houe van die werklikheid kan weerstaan.

Albert Janse van Rensburg
BVSA Rekenmeesters & Finansiële Dienste
albertj@bvsa.co.za

Recent Posts
Verified by MonsterInsights