Oorloë en die Opemark: ‘n Perspektief op Wêreldnuus en Internasionale Markte

Gedurende die eerste helfte van 2025 was woorde soos “vrees” en “angs” algemeen in die woordeskat van nuuslesers, professionele beleggers en die man op die straat.

Plaaslik het vrese oor die terugkeer van beurtkrag, die ineenstorting van die Regering van Nasionale Eenheid, grondonteiening sonder vergoeding en ‘n tweede Groot Trek (Afrikaners wat as vlugtelinge na die VSA verhuis) gesprekke rondom braaivleisvure en in raadskamers oorheers.  Ten spyte van die kommer wat baie beleggers gevoel het en die neiging om na oorsese beleggingsgeleenthede te vlug, het die Rand geleidelik teenoor die Dollar versterk, en die JSE het ’n merkwaardige opbrengs van 19,69% in slegs ses maande gelewer.

Dit kan geargumenteer word dat die gemiddelde Suid-Afrikaner ietwat gewoond geraak het aan hierdie onsekerhede en in staat is om steeds “aan te hou aanhou” (‘n vertaling van die woorde van Martin Luther King Jr.), met die wete dat die toekoms dikwels nie so erg is as wat aanvanklik gevrees word nie. Die ontwikkelde wêreld, wat egter minder gewoond is aan sulke slegte-uitkoms risiko’s, is deur die storms van 2025 geskud. Nietemin bly dieselfde waarheid staan… die toekoms is dikwels nie so erg as wat aanvanklik gevrees word nie.

Laat ons vir ‘n oomblik in die truspieël kyk en reflekteer oor die opskrifte wat menings gevorm het in hierdie vreemde nuwe werklikheid waar baie beleggers meer aandag gee aan kitsnuus op X (voorheen Twitter) en Truth Social as die grondbeginsels van beleggings.

Januarie – Februarie: Vrees dat ’n KI-Borrel gaan Bars

Na nog ’n jaar van uitstekende opbrengste vir die Amerikaanse mark en tegnologie-aandele het talle beleggers begin twyfel oor die volhoubaarheid van die optimisme rondom Amerikaanse uitsonderlikheid en kunsmatige intelligensie (KI)-beleggings. Hulle het gevrees dat die stygende premies waarteen Amerikaanse en tegnologie-aandele bo hul intrinsieke waarde en huidige verdienste verhandel word, ‘n aanduiding was dat ‘n KI-borrel gevorm het en enige oomblik kon bars.

Angs was die oorheersende gevoel en gesprekke oor Amerikaanse handelstariewe op Kanada en Mexiko, asook die bekendstelling van die Chinese KI-model, DeepSeek, het die ongemak onder beleggers vererger. Markbewegings het in hierdie omgewing relatief stabiel gebly, met die S&P 500 wat slegs 1,21% [USD] oor die twee maande gelewer het.

 

 

Maart – April: Resessievrese en ’n Handelsoorlog!

In Maart 2025 was resessievrese in volle swang toe die aankondiging van die sogenaamde “Liberation Day”-tariewe die reeds gekneusde mark verder laat daal het. ’n Verlies van meer as 10% is in die daaropvolgende twee dae waargeneem. President Trump se heen-en-weer tussen die implementering en uitstel van tariewe, om onderhandelinge moontlik te maak, het ernstige wisselvalligheid en onsekerheid in wêreld finansiële markte veroorsaak.

Oor die twee maande het die S&P 500 ’n verlies van 6,47% [USD] getoon, alhoewel angstige beleggers groter verliese gely het deur posisies oorhaastig te verkoop en daarna nie deel te neem aan die herstel van die mark na beleidsveranderinge nie.

 

 

Mei – Junie: Konflik en ’n Moontlike Wêreldoorlog?

Terwyl ’n mate van normaliteit in Mei 2025 na finansiële markte teruggekeer het namate nuus oor die handelsoorlog stadig vervang is deur nuus oor handelsooreenkomste, het geopolitiese spanning hoog gebly. Die oorlog in Gaza het nasies verdeel toe Israel sy militêre teenwoordigheid in die gebied uitgebrei het. Die Rusland-Oekraïne-oorlog het voortgeduur met bevestigde berigte van Noord-Koreaanse troepe wat langs Russe veg. Israel se verrassingsaanval op Iranse militêre amptenare, wetenskaplikes en die Islamitiese Republiek se kernprogram het skokgolwe van vrees wêreldwyd veroorsaak. Daar was groot kommer dat Amerika by die konflik betrek sou word en dat die onrus sou eskaleer tot die begin van die Derde Wêreldoorlog. Al het die VSA toe direk betrokke geraak, is ’n wapenstilstand ’n paar dae later onderhandel en die konflik is as die “12 Dae Oorlog” bestempel.

In die onstuimige omgewing sou dit dalk verwag word dat chaos in finansiële markte ontstaan en dat beleggers aansienlike wisselvalligheid en moontlike groot verliese sou beleef. Hierdie was egter nie die geval nie. Na vele markskokke en onvoorspelbare gebeure in die onbekende waters van Trump-politiek en -ekonomiesebeleid het finansiële markte ‘n veerkragtigheid ontwikkel. Alhoewel baie beleggers gespanne was, was hulle net so huiwerig om impulsief te reageer, aangesien hulle reeds ’n groter mate van onsekerheid in hul posisionering in ag geneem het. Die S&P 500 kon ’n merkwaardige opbrengs van 11,40% [USD] oor die twee maande lewer, ten spyte van die waarskuwings van doemprofete.

 

 

’n Nuwe Normaal Vereis ’n Nuwe Perspektief

Wêreld finansiële markte het vanjaar bewys dat hulle nie so broos is as wat baie beleggers aan die begin van die jaar gevrees het nie, en kon talle skokke en aanslae weerstaan.  Die onvoorspelbaarheid van die politiek en markbewegings het korttermyn-handel, wat op sentiment of oordrewe groeiverwagtinge gebaseer is, feitlik gelyk gestel aan dobbelary – waar die pyn van die verlies dikwels die potensiële wins ver oorskry. Beleggers posisioneer hulself toenemend om skokke te kan verduur en sommige van die wisselvalligheid te absorbeer, terwyl hulle vashou aan hul langertermyn-beleggingsuitkyk. Is dit moontlik dat die verhoogde onsekerheid in die markte gelei het tot ‘n terugkeer na ‘n meer rasionale benarding tot beleggings?

In baie opsigte het internasionale markte ’n risiko-profiel aangeneem waaraan ons in Suid-Afrika meer gewoond is.  In sulke omstandighede moet groeigeleenthede met ’n gesonde respek vir slegte-uitkoms risiko’s nagestreef word, en ’n vorm van beskerming teen hierdie uitkomste is nodig. Strategiese, langtermyn-beleggingsbesluitneming en effektiewe risikobestuur word van kardinale belang in sulke marktoestande, waar ‘n klem op beide kapitaalbeskerming en die groei van welvaart geplaas moet word.

Geskryf deur Kobus Jansen van Vuuren

Loading

Verified by MonsterInsights