COVID-19 Verligting

“When you wake up every day, you have two choices. You can either be positive or negative; an optimist or a pessimist. I choose to be an optimist. It’s all a matter of perspective.” – Harvey Mackay

In hierdie onseker tyd met die korona-krisis en die impak wat dit op elke individu, besigheid en gesin het, deel ons graag die volgende inligting met u. Ons is bewus dat daar tans baie grys areas is, met nuwe inligting wat daagliks beskikbaar gestel word. Ons onderneem om sover moontlik ingelig te bly, sodat ons u as kliënt se hand kan neem in hierdie uitdagende tyd.

Noodsaaklike Dienste Ondernemings

Gedurende die inperkingsperiode soos deur die President van Suid-Afrika ingestel is, mag slegs besighede wat gelys word onder “essential service businesses” handel dryf. Besoek asb. hierdie webtuiste vir die volledige lys, en ook om aansoek te doen om ‘n permit om sodanig handel te dryf.

SARS-verligting:

Die toegewing is vir klein en medium besighede, met ‘n omset van minder as R50 miljoen per jaar. Let daarop dat daar op hierdie stadium geen verligting is t.o.v. die indien en oorbetaling van BTW en WVF nie.

Die verligting is as volg:

ETI-voordele gelig vanaf 1 April 2020 tot 31 Julie 2020

Die maksimum rabat wat geëis kan word, word gelig vanaf R1 000 tot R1 500 vir die eerste twaalf (12) kwalifiserende maande, en dan vanaf R500 tot R1 000 vir die volgende twaalf (12) maande. ‘n ETI-eis van R500 sal toegelaat word gedurende die vier (4) maande vir werknemers in die ouderdomsgroep 18-29 wat nie meer geregtig was om die ETI-voordele te eis nie omrede die werkgewer reeds ETI voordele vir 24 maande geëis het. ‘n ETI-eis van R500 sal ook toegelaat word gedurende die vier (4) maande vir werknemers in die ouderdomsgroep 30-65 wat andersins a.g.v. hul ouderdom nie sou kwalifiseer nie.

Uitstel van die betaling van werknemersbelasting (1 April 2020 tot 31 Julie 2020)

20% van die werknemersbelasting wat betaalbaar is aan SARS kan uitgestel word, sonder dat SARS boetes of rentes sal hef. Die uitgestelde werknemersbelasting moet in gelyke dele terugbetaal word. Dit moet oor ‘n ses (6) maande-periode geskied wat in aanvang sal neem op 1 Augustus 2020. Die eerste betaling moet dus teen 7 September 2020 gemaak word.

Uitstel van die betaling van voorlopige belasting

Hierdie verligting geld vir die periode 1 April 2020 tot 31 Maart 2021. ‘n Gedeelte van die bedrag voorlopige belasting wat betaalbaar is, kan uitgestel word sonder dat SARS boetes en rentes hef. Die eerste voorlopige belasting-betalings wat betaalbaar is van 1 April 2020 tot 30 September 2020 kan baseer word op 15% van die geskatte SARS-aanspreeklikheid. Die tweede voorlopige betalings wat betaalbaar is vir die tydperk 1 April 2020 tot 31 Maart 2020 sal op 65% van die totale SARS-aanspreeklikheid gebaseer word. Die verskil moet ten volle betaal word saam met die derde voorlopige belasting-betaling om rente te vermy.

Staatsbefondsing en -hulp

Hier is drie (3) opsies beskikbaar. Maak seker dat u voldoen aan die kriteria. Dis ook belangrik dat al u sake by SARS op datum is.

SMMS SA

Besoek hierdie webtuiste om aansoek te doen om finansiering. Let daarop dat slegs maatskappye en BK’s kwalifiseer. Hier is twee (2) toelae waarvoor aansoek gedoen kan word, die SMME Business Growth Resilience Facility en die SMME Debt Relief Scheme. Die kriteria om te kwalifiseer is op die webtuiste beskikbaar.

Oppenheimer Befondsing

Hierdie finansiering word deur Nedbank, ABSA, Standard bank en FNB gefasiliteer. Kwalifiserende klein- en medium besighede sal ‘n leningsbedrag ontvang gelykstaande aan R750 per kwalifiserende werknemer per week, vir ‘n periode van vyftien (15) weke. R11 250 word dus oor ‘n periode van vyftien (15) weke ontvang per permanente werknemer. Daar is geen perk op die hoeveelheid werknemers wat kwalifiseer per besigheid nie. Alle werknemers, behalwe direkteure, sal kwalifiseer. Die fondse sal direk in die werknemers se bankrekening uitbetaal, hoewel die verantwoordelikheid vir die terugbetaling van die lening by die besigheid bly. Die fondse sal rentevry uitgeleen word, met ‘n terugbetalingsperiode van vyf (5) jaar.

Die vereistes om te kwalifiseer is as volg:

  1. Jaarlikse omset van besigheid is minder as R25 miljoen.
  2. Die besigheid moet al vir ten minste 24 maande handel dryf.
  3. Die besigheid moes ‘n volhoubare besigheid wees op 29 Februarie 2020.
  4. Die besigheid moet nadelig geaffekteer word deur COVID-19.

Rupert Befondsing

Hierdie toelaag en finansieringshulp is beskikbaar vir eenmansake, BK’s, maatskappye en trusts. Besoek hierdie webtuiste om te registreer. Die Rupert Funding bied vir eenmansake ‘n toelaag van R25 000 per kwalifiserende besigheid om te betaal vir oorhoofse koste en onderneem om binne sewe (7) werksdae na die aansoek ingedien is, die uitbetaling te maak, mits daar aan die kriteria voldoen word. Die Rupert Funding bied aan BK’s, maatskappye en trusts ‘n toelaag van R25 000 per kwalifiserende besigheid, sowel as lenings tussen R250 000 tot R1 miljoen. Die lening is rentevry vir twaalf (12) maande met geen terugbetalingsvoorwaardes nie. Die lening is terugbetaalbaar na twaalf (12) maande, en sal rente dra teen primakoers vanaf maand dertien (13), wanneer die besigheid weer op sy voete is. Die fonds onderneem ook om binne sewe (7) werksdae na die aansoek ingedien is, ‘n gedeelte van die finansiële hulp beskikbaar te stel. A.g.v. die hoë volumes aansoeke is die aansoekproses tydelik gestaak totdat die agterstand weer ingehaal is.

Eise t.o.v. werknemers

Daar is twee opsies wat gevolg kan word ten opsigte van u eis weens COVID-19. Neem asb. kennis dat geen eise ingedien kan word as u werknemers nie op u WVF geregistreer is nie.

Die eerste opsie is WVF. U kan WVF eis sou u werknemers verminderde ure werk a.g.v. COVID-19. Die aansoek word deur die werknemer self ingedien en die WVF betaal direk uit aan die werknemer. Die uitbetaling sal gelykstaande wees aan die minimum loon (R3 500) per werknemer vir die tydperk wat die besigheid onder “lockdown” is, beperk tot ‘n maksimum van drie (3) maande.

Die tweede opsie is TERS. U kan slegs die opsie gebruik sou u besigheid sluit weens COVID-19 en u werknemers in diens het. 
Die werkgewer dien die aansoek in. Die geld word dan uitbetaal aan die werkgewer om self aan die werknemers oor te betaal.
Die werkgewer hoef nie ‘n nuwe bankrekening oop te maak vir die uitbetaal van die eise nie, die eis sal in die werkgewer se bestaande bankrekening inbetaal word.
Om die proses aan die gang te sit, kan ‘n e-pos gestuur word aan covid19ters@labour.gov.za waarna ‘n e-pos outomaties teruggestuur word met die vorms, ens. wat voltooi moet word.
Die geld wat uitbetaal word, word bereken op ‘n skaal van 38-60% van die werknemer se salaris, onderworpe aan ‘n maksimum drempel van R17 712.
BVSA kan help met die voorbereiding van die dokumentasie en ook die indiening van die eise.

Ongevalle eise

Ongevalle eise weens COVID-19 kan slegs ingedien word indien die werknemer die virus opgedoen het terwyl hy/sy by sy werk in diens was.

Baie sterkte aan elkeen van u in die onseker tye. BVSA se rekeningkundige- en finansiële dienste gaan steeds soos normaalweg voort. Personeel is beskikbaar via hul selfoon of e-pos. Almal het ‘n verantwoordelikheid om hul deel te doen om die verspreiding te voorkom en sosiale distansiëring is die belangrikste wat ons nou kan doen.

Kontak gerus een van ons kundige adviseurs indien u verdere inligting verlang.

Bostaande is slegs ter inligting en is geensins advies nie. Boshoff Visser Konsult Edms. Bpk. raai alle lesers aan om met ‘n kundige finansiële adviseur in verbinding te tree voordat enige besluite geneem word.

Artikels geskryf deur BVSA

Recent Posts
Verified by MonsterInsights