Hou emosie uit beleggings – veral in onseker tye.

Die afgelope kwartaal het die handelsoorlog tussen China en Amerika voortgeduur en geeneen van hulle wil iets prysgee nie. Dit het die wêreldmarkte in onseker omstandighede gelos en daarom die huidige wisselvalligheid wêreldwyd.

Die Britte verhinder hulself om uit die Europese Unie te tree (BREXIT), al het hulle daarvoor gestem. Dit bring geweldige onsekerheid oor Europese handel en die vloei van geld wêreldwyd.

In Italië is daar nou populiste aan bewind van ’n land met ’n begroting, ekonomie en groei-vooruitsigte wat onder baie druk verkeer. Nie ’n populistiese sisteem se ideale omstandighede nie. Verwag interessante wetgewing om aan die lig te kom daar.

Plaaslik

Die Rand het (uiteindelik) onder druk gekom met die besef dat Suid-Afrika ’n LANG pad tot ekonomiese herstel het. Daar is egter steeds sprake van grondhervorming sonder vergoeding en ’n Nasionale Gesondheidsplan wat onsekerheid (en frustrasie) by beleggers skep. Onthou tog dat 2019 ’n verkiesingsjaar is.

Iets wat egter meer aandag benodig is Eskom, SAL en die talle ander staatsinstansies wat onder geweldige kontantvloei-en skulddruk is. Dit kos die belastingbetaler daagliks miljoene rande, maar dit is tans ons realiteit. Die huidige President en sy span doen reeds goeie werk om die instellings te stabiliseer, maar die probleem kan nie oornag opgelos word nie en dit gaan ons ekonomie nog kniehalter vir ’n tydperk.

Markte

Die JSE het 4,54 % gestyg vir die kwartaal, maar is steeds negatief met 1,7 % vir die kalenderjaar. Eiendom vir die kalenderjaar is negatief met 21,37 % met Resilient, Fortress en Nepi Rockcastle die rede vir die groot daling in dié sektor. Steeds is dit ons mening dat ’n belegger nie van ’n sektor moet ontslae raak as gevolg van een of twee “vrot appels” nie. Vernuftige beleggers het tog nie al hulle aandele verkoop na die Steinhoff debakel nie.

Met stygende rentekoerse in Amerika en die verswakking van die Rand (en natuurlik ons ekonomiese stand van sake) het plaaslike effekte se pryse gedaal. Eiendomsaandele se pryse en dividend opbrengste word in Suid-Afrika gemeet teen dié van effekte. Hoewel ons nie ten volle daarmee saamstem nie, gebeur dit, maar skep dit geleenthede. Growthpoint kan nou teen ’n historiese inkomste opbrengs van 7,7 % gekoop word, Redefine Properties teen 8,96 % en SA Corporate Real Estate teen 10,23 %.

Derde kwartaal 2018 – Wat lê voor…

Die handelsoorlog gaan voortduur en gevolglik sal wisselvalligheid wêreldwyd bly seëvier. Hopelik kom Amerika en China tot ’n vergelyk. Dit lyk nie altyd so nie, maar Donald Trump en sy span het die oorlog mooi deurdink voor hulle dit begin het. Verwag dus dat dit voortduur.

Wêreldwyd verloor die ekonomiese opswaai spoed en sal dit toekomstige groei onder druk plaas. Die beste beleggings word egter in moeilike tye gemaak omdat die prys wat betaal word vir die belegging gunstig is. Moet dus nie uit vrees optree met jou beleggings nie. Kry kundige adviseurs om jou by te staan in moeilike tye, hou jou oog op die langtermyn en fokus jou belegging op bates wat ’n goeie inkomste (dividende en huurinkomste) lewer.

Recent Posts
Verified by MonsterInsights