Korttermynverskering se voortdurende marksiklusse en uitdagings

 In News

Die korttermynversekeringsbedryf gaan voortdurend deur siklusse van markveranderinge. Versekeraars se uiteindelike doelwit verskil nie van dié van ander besighede nie: om hul besigheid finansieel suksesvol te bedryf. Hierdie winsmotief dra grootliks by tot die siklusse waaraan kliënte blootgestel is, wat hoofsaaklik in drie kategorieë ingedeel kan word. In al die siklusse speel die solvensiemarge van die versekeraars sowel as herversekeringsreëlings ‘n belangrike rol. Alle aksies wat tydens die siklusse geïmplementeer word, mik daarna om volhoubaar besigheid te doen binne die geldende wetgewing, om aanspreeklikheid vir die betaling van eise na te kom, en om winsgewend te onderskryf.

Eerstens is daar die sagte mark wat vir die versekeraar ‘n groei fase inlei en sterk beïnvloed word deur kompetisie tussen die verskeie rolspelers in die korttermynbedryf wat om markaandeel meeding. Hierdie groeifase word gekenmerk deur ‘n toename in premie-inkomste, die bekendstelling van nuwe produkte, en die werwing van nuwe kliënte. Risiko evaluering is gedurende hierdie tydperk minder streng, en dekking word maklik toegestaan, wat lei tot ‘n toename in eise en groter verliese.

Tweedens veroorsaak ‘n toename in eise groter verliese en daarmee saam swakker onderskrywingsresultate vir die versekeraars, wat tot die verharding van die mark lei. Die harde mark word gekenmerk deur strenger risiko evaluering by die aanvaarding van risiko’s, verhoogde premies, en ‘n bereidwilligheid om kliënte en markaandeel te verloor. Die hernuwing van bestaande polisse met ‘n swak eise verhouding, ten opsigte van portefeuljes waarop die versekeraars ‘n verlies maak, word aangebied met verswarende voorwaardes soos verhoogde premies, verhoogde bybetalings, beperkte dekking, en selfs kansellasie van sekere dekkings.

Die derde siklus kan beskryf word as ‘n “Besigheid soos gewoonlik”-fase. Hier is versekeraars bereid om by die hernuwing van polisse vir bestaande kliënte die status quo te handhaaf. Alhoewel versekeraars tydens hierdie fase dalk nie groot onderskrywingswinste maak nie, is hulle, weens kompetisie in die bedryf, bereid om hul evaluasie standaarde nie te streng toe te pas nie om bestaande kliënte en hul markaandeel te behou, met min klem op die groei van nuwe kliënte. Hierdie fase funksioneer tussen die sagte en harde mark en markverwante tariewe en terme word meestal toegepas.

Die publiek word voortdurend gebombardeer met advertensies deur korttermynversekeraars via verskeie kanale. Dit weerspieël die intense kompetisie om potensiële kliënte te werf en/of bestaandes te behou ten einde markaandeel uit te bou. Die fokus van hierdie bemarkingsaksies weerspieël ook watter siklus die bedryf tans ervaar. Bemarkingskoste, insluitend advertensie- en tussengangerkommissies, vorm ‘n beduidende deel van ‘n polis se premie struktuur. Kliënte betaal indirek vir hierdie kostes aangesien dit deel uitmaak van die premie. Dit is egter nie noodwendig goedkoper om direk by ‘n versekeraar te verseker nie, ten spyte van advertensies wat andersins mag impliseer.

Die versekeringsbedryf staar ook verskeie uitdagings in die gesig. Onlangse fokuspunte sluit in beurtkrag en die potensiële ineenstorting van die elektrisiteitsnetwerk, wat ‘n skerp toename in kragstuwingsverwante eise tot gevolg gehad het. Versekeringsmaatskappye was genoodsaak om strenger onderskrywingsmaatreëls ten opsigte van hierdie tipe dekking toe te pas. Beurtkrag is ‘n primêre oorsaak van skade veroorsaak deur kragstuwings as gevolg van kragtoevoerfluktuasies, wat gelei het tot die implementering van verhoogde premies, bybetalings, en beperkte dekking vir hierdie risiko. Daar word ook geen dekking meer gebied vir skade en verliese wat mag voorkom indien ‘n totale elektrisiteitsnetwerkonderbreking plaasvind nie.

Die swak toestand van Suid-Afrika se padinfrastruktuur, as gevolg van onvoldoende instandhouding, lei tot ‘n toename in padongelukke en dus versekeringseise. In sommige gebiede is die pad toestande so sleg, as gevolg van slaggate, dat sekere versekeraars reeds beswarende klousules ten opsigte van hierdie tipe eise in hul polisse ingesluit het. Ander ernstige katastrofes wat die korttermynbedryf getref het, sluit in die opstande in KZN gevolg deur erge vloede, ‘n aardbewing in Gauteng, ongekende vloede in die Wes-Kaap, en veldbrande op verskeie plekke in die land. Daarbenewens het slagoffers van transito rooftogte, voertuigkapings, gewapende rooftogte, en inbrake die afgelope jaar drasties toegeneem, wat almal ernstige finansiële verliese tot gevolg gehad het.

Tydens hierdie rampe en verliese het korttermynversekeraars ‘n deurslaggewende rol gespeel deur finansiële ondersteuning aan versekerdes te bied. In vele gevalle was korttermynversekering ‘n reddingsboei vir slagoffers om finansieel te oorleef en hul ekonomiese aktiwiteite te hervat. Die belangrikheid van versekering kan nie genoeg beklemtoon word nie, wat beteken die publiek kan die soms irriterende advertensies wat hulle gebombardeer verdra.

Ander verskynsels wat ‘n impak op die versekeringsbedryf het en waarvan kennis geneem moet word, sluit in die El Niño-verskynsel en kubermisdaad. El Niño kan lei tot warmer en droër toestande met verhoogde brandgevare en kan gepaard gaan met ongewone weerpatrone soos sterk winde, weerlig, en hael. Kubermisdaad neem ook toe, met baie Suid-Afrikaners wat reeds die prooi van kuberskelms geword het.

Alhoewel dit belangrik is om jou korttermynversekering op datum te hou om teen hierdie risiko’s gedek te wees, bring verliese groot ontwrigting en ongerief mee wat tyd neem om van te herstel. Ons advies is dat, ongeag versekering, elkeen alle redelike voorsorg- en sekuriteitsmaatreëls binne hul vermoë tref om verliese en skade te probeer voorkom of te minimaliseer, wat aansienlik meer gemoedsrus bied.

Laastens, maar nie die minste nie, bly die inflasie gogga niemand se vriend nie. Dit bly belangrik vir versekerdes om hul versekerde bedrae gereeld na te gaan vir toereikendheid om onderversekering te vermy. Vir versekeraars en herversekeraars is inflasie ook ‘n aanhoudende uitdaging wat in ag geneem moet word by die samestelling van korrekte premies vir die onderskeie risiko’s.

 

Geskryf deur Bert Kleinhans

BVSA Korttermyn Finansiële Adviseur

Recent Posts
Verified by MonsterInsights