Ongelyke erfdele: Antwoorde wat jy moet gee al word die vraag nie gevra nie.
Die paar bladsye van ‘n testament en ‘n wensebrief kan ‘n wig indryf in ‘n eens hegte familie, net omdat die patriarg of matriarg nie bereid was om voor hul dood oor die inhoud daarvan te kommunikeer nie. Die gevolge van dié basiese versuim om te kommunikeer, kan vervreemding veroorsaak wat oor geslagte strek. Juis dit wat die testateur wou voorkom, gebeur as gevolg van hierdie kommunikasiegebrek.
Om jou bates gelykop tussen jou nageslag te deel is edel, maar dikwels nie wenslik nie. Waar plaaseiendom in kleiner as volhoubare boerdery-eenhede verdeel word, word die boerdery besighede reeds met verdeling verdoem, en is dit nie die volgende geslag se onvermoëns wat hiervoor verantwoordelik is nie. Waar die erfgenaam van die plaas of besigheid selfs met ‘n bekostigbare, maar vaste verpligting gelaat word om sy broers en susters uit te betaal, kan die sikliese aard van boerderye en besigheid so ‘n bepaling onhaalbaar maak en die besigheid kelder. Indien ‘n testateur ‘n werklike of selfs ‘n oënskynlike ongelyke erflating oorweeg, behoort almal mekaar in die oë te kyk in lewe. Op hierdie manier kry ‘n kind die geleentheid om die redes vir die besluite te verstaan en te aanvaar sonder dat verhoudinge tussen kinders en met die langslewende geskaad word.
By die besluit oor die verdeling van jou bates, word duidelikheid oor die waarde van jou bates gesoek in die strewe na ‘n regverdige verdeling. Met enige waardebepaling is die besluit oor die metodiek van waardasie deurslaggewend. Watter geldwaarde gee jy werklik vir jou boerkind as hy/sy nooit die plaas verkoop nie? Is die randwaarde van die grond wat hy/sy ontvang vir gelykstelling doeleindes nie net die samevoeging van daardie kontant winste ná alle vervangings en kapitaalbeleggings wat gemaak is om die plaas volhoubaar te hou nie? Vra jouself af hoeveel geld jy die laaste tien jaar uit die plaas kon haal en buite die boerdery of besigheid belê het Die markwaarde van die plaas beteken vir die boerkind min as sy strategie is om die plaas volhoubaar op te bou en beter aan sy nageslag oor te dra. Markwaarde is dikwels nie die beste manier om waarde te beskou by gelykstelling van erfdele nie. Indien die boerkind die plaas binne enkele jare sou verkoop, behoort die verdeling heroorweeg te word ten einde kontantgewys meer gelyk te wees.
Om met die warm hand te gee is ‘n beginsel wat slegs beskore is vir diegene wat volledig vir hulle eie finansiële toekoms voorsiening gemaak het. Om ‘n kind so vroeg moontlik te bemagtig met ‘n gedeelte van sy erfdeel behoort oorweeg te word indien die kind die vermoë het om dit te hanteer en dit bekostigbaar vir jou is. Die R1 wat ‘n kind op 30-jarige ouderdom ontvang, gee waarskynlik meer finansiële geleenthede as die R15 wat hy/sy op ouderdom 60 erf. (“Eers gegee en dan geneem is erger as ‘n dief gesteel.” Maak dus seker dat jy self finansieel onafhanklik kan voortgaan.)
Waar ‘n kind by jou aansluit in jou besigheid terwyl jy nog aktief betrokke is in die besigheid moet die tydlyn toekoms vir die kind duidelik en skriftelik uiteengesit word. Dit is wenslik dat hy/sy bepaalde mylpale moet behaal, welke mylpale die tydlyn mag aanpas, maar die kind moet weet watter afdelings hy wanneer gaan oorneem. En oorneem moet hy/sy. Vir ‘n suksesvolle oorgang van ‘n besigheid moet vooraf beplan word. Vaste bekostigbare finansiële onttrekkings moet neergepen word en albei partye moet presies weet waar hulle hulself in die opvolgproses bevind.
In baie gevalle setel besigheidsbates in maatskappye en uiteindelik in trusts, en kan daar nie testamentêr bepaal word wat met die bates moet gebeur nie. Die vooraf kommunikasie met die trustees en die begunstigdes behoort baie direk en duidelik te wees. Alle kontroversiële besluite oor verdelings moet skriftelik spesifiek wees sodat trustees gemagtig is om dit uit te voer. Trustees sonder leiding behoort nie kontroversiële verdelings aan begunstigdes te oorweeg nie.
Indien jy, soos ek, ‘n behoefte het dat jou kinders in die toekoms ‘n goeie verhouding met mekaar moet hê, het jy nie ‘n ander keuse as om in lewe die moeilike gesprekke van ‘n ongelyke verdeling van bates te bespreek nie. Jy moet die leiding neem en die antwoorde verskaf op die vraag wat niemand nog gevra het nie. Maak ‘n afspraak met jou erfgename en bespreek die huidige inhoud van jou testament en wensebrief en herhaal dit na elke aanpassing. Verrassings hoort nie in ‘n testament nie.
Geskryf deur Nelius Smith CA(SA), BVSA Direkteur
E-pos adres: neliuss@bvsa.ltd