Rapportering van die Boedel
Die onafwendbaarheid van die dood is vir die oorgrote meerderheid van mense ‘n baie verontrustende konsep. Die skielike dood van ‘n broodwinner, familielid of geliefde vriend, veroorsaak dat die agtergelate gesinslede só emosioneel verblind word dat hulle dit baie moeilik vind om enigsins rasioneel op te tree. Omdat die mensdom nie elke dag met die dood in aanraking kom nie, is die gemiddelde mens salig onbewus van die magdom administrasie wat alles daarmee gepaard gaan. Alhoewel die ondersteuning van vriende en familie wel genesing bring, bly die verlies van ‘n geliefde ‘n bitter emosionele en moeisame proses. Dit is daarom uiters belangrik dat elke persoon hom-/haarself vertroud moet maak met die basiese stappe wat geneem moet word by die afsterwe van ‘n geliefde. Dus, om hierdie proses vir u te vergemaklik en om te verhoed dat u in boedeladministrasie verstrengel raak, gaan ons vir die volgende paar maande ‘n reeks artikels publiseer om u stap vir stap te verduidelik wat in die praktyk gebeur en hoe ons by BVSA Konsult, as eksekuteur of agent, u behulpsaam kan wees met die bereddering van ‘n geliefde se boedel.
Die eerste stap in die boedelproses begin by die rapportering van die boedel. Wanneer ‘n persoon sterf en enige bates nalaat, moet die langslewende eggenoot of naaste familielid die boedel binne veertien (14) dae vanaf datum van afsterwe, die boedel op die voorgeskrewe wyse by die Meester van die Hoë Hof aanmeld. Omrede boedelbereddering ‘n baie gespesialiseerde deel van die reg uitmaak, is dit algemene praktyk en raadsaam vir persone wat benoem word as eksekuteurs in ‘n testament (en wat nie ervaring het in die administrasie van boedels nie) om ‘n agent aan te stel om namens u op te tree.
Die belangrikste dokumente wat by die Meester van die Hoë Hof ingedien moet word is die volgende:
- Oorspronklike testament van die oorledene
- ID afskrifte van die oorledene en eksekuteur
- Doodsertifikaat
- Sterfkennis
- Inventaris
- Aanvaarding van eksekuteurskap
- Huweliksertifikaat
- Huweliksvoorwaardekontrak
Die totale waarde van die bates op dag van dood sal bepaal of daar by die Meester van die Hoë Hof aansoek gedoen moet word vir die uitreiking van ‘n artikel 18(3) magtigingsbrief (bates onder R250,000) of ‘n eksekuteursbrief (bates bo R250,000). Die uitreiking van ‘n artikel 18(3) magtigings- of eksekuteursbrief kan enigiets van vier tot agt weke neem. Die oomblik wanneer die Meester een van die laasgenoemde briewe uitgereik het, het die eksekuteur en/of agent (tesame met die nodige volmag), die reg om in die skoene van die oorledene te staan om sodoende drade bymekaar te trek, sodat die boedel afgesluit kan word. Dit is dus baie belangrik om geduldig te wees wanneer die boedeladministrasieproses begin.
Ter afsluiting van die bogenoemde uiteensetting van die eerste stap in die boedelproses, het ons goedgedink om na elke artikel in ons reeks vir u ‘n basiese skematiese voorstelling aan te heg wat as illustrasie sal dien van waar ons op daardie tydstip in die boedelproses trek. Sodoende kan u aan die einde van die reeks nét dit gebruik om u te lei deur die hele proses wat gevolg moet word wanneer ‘n geliefde aan die dood afgestaan word.
Boedelbereddering
Stap 1: Rapportering van die Boedel
Tydsduur: 4-8 weke
Ons fidusiêre span by BVSA Konsult het jare se ondervinding in boedelbereddering en is professioneel toegerus om u te help met enige aangeleenthede wat daarmee verband hou.
Kontak gerus een van ons kundige adviseurs indien u verdere inligting verlang.
Bostaande is slegs ter inligting en is geensins advies nie. Boshoff Visser Konsult Edms. Bpk. raai alle lesers aan om met ‘n kundige finansiële adviseur in verbinding te tree voordat enige besluite geneem word.
Artikels geskryf deur Reghardt Draper