Saamwoners se regte en Padongelukfonds eise

Saamwoners se regte en Padongelukfonds eise

Hoewel dit dalk algemene kennis is dat afhanklikes van ‘n oorledene wat in of as gevolg van ‘n motorongeluk gesterf het, die reg het om van die Padongelukfonds (POF) te eis, verskaf ‘n deurslaggewende uitspraak deur die Gautengse Hoë Hof ‘n nuwe perspektief vir eise wat verwerp is deur die POF op grond van standpunte oor “goeie sedes”.

Hierdie uitspraak bepaal dat paartjies nie noodwendig in ‘n wettige huwelik hoef te wees om hulle in staat te stel om te eis vir verlies aan onderhoud indien hulle lewensmaat in ‘n motorongeluk gesterf het nie.

Moet jy getroud wees om te kan eis?

Indien gades getroud is en een van die gades sterf in ‘n motorongeluk, sou die oorlewende gade normaalweg ‘n eis teen die POF hê. Dit is weens die Wet op Huweliksgoedere.

In die bogenoemde Gautengse saak het die POF die eis geweier omdat die paartjie nie wettig getroud was nie. Brenda Jacobs het die hof genader nadat haar lewensmaat, Wesley Stevens, in September 2015 gesterf het nadat hy in ‘n motorongeluk noodlottig beseer is.

Ten tye van sy dood was Wesley steeds getroud met sy vervreemde vrou, en terselfdertyd verloof aan Brenda. Die paartjie het al ‘n paar jaar lank saamgewoon. Wesley was die enigste broodwinner vir die huishouding, terwyl Brenda ‘n tuisteskepper was. Brenda was finansieel afhanklik van Wesley. Regter Collis het gemeen daar was ‘n belofte van ‘n huwelik tussen hulle en hul families het hulle as ‘n getroude paartjie beskou.

Wat is die posisie as jy getroud is, maar van jou gade vervreem is?

Die Hof was oortuig dat die oorledene onderneem het om die eiser te onderhou “met die bedoeling om regtens verbind te wees tot sodanige onderneming”. Die regter het beslis dat die oorledene ‘n kontraktuele onderhoudsplig teenoor die eiser gehad het, wat die reg behoort te beskerm. Verder het die regter toegegee dat sommige paartjies in werklikheid hulleself in ‘n posisie bevind waar hulle saamwoon met die bedoeling om te trou en daar wederkerige onderhoudspligte is, maar dat daar ‘n regsbeletsel is wat hulle verhoed om te trou. Die Hof het 100% van die eiser se eis toegestaan, die bedrag moet nog vasgestel word.

 

Recent Posts
Verified by MonsterInsights