Wat is Effektetrusts – Deur Alida Roos

Verstaan die Risiko van jou Belegging

In ‘n vorige artikel het ons gemeld dat beleggers wat in ‘n gediversifiseerde effektetrust portefeulje belê die beste inflasie bestande opbrengste kan behaal.

Wat is Effektetrusts?

‘n Effektetrust (ook genoem ‘n kollektiewe belegging) is ‘n beleggings portefeulje wat saamgestel is uit verskillende onderliggende bates, of te wel bateklasse, wat aandele, effekte, kontant en eiendom insluit. Jy kan dus met ‘n enkele effektetrust belegging, sou of net soos jy verkies, gelyktydig in verskeie onderliggende bateklasse belê.

10 Redes om in ‘n Effektetrust Portefeulje te Belê

Toeganklik

Jy kan ‘n eenmalige enkelbedragbelegging maak of kies om ‘n klein bedrag op ‘n maandelikse basis te belê. Minimum enkelbedrae wissel van R20,000 tot R50,000 en maandelikse bydraes per debietorder begin hoofsaaklik by R500. Debietorders kan gekanselleer word, verhoog en verlaag word sonder enige boetes.

Likiditeit

Effektetrusts is maklik verhandelbaar en jy kry toegang tot jou fondse in 3–5 werksdae. Jy kan dus enige tyd ‘n onttrekking doen. Jy kan ook gereelde onttrekkingsskeduleer wat ‘n maandelikse, kwartaallikse, halfjaarlikse of jaarlikse inkomste verseker.

Diversiteit En Risiko

Jy kan jou portefeulje diversifiseer deur die persentasie toedeling tot elke onderliggende bateklas te kies. Hierdie batesamestelling sal afhang van jou risiko benadering van toepassing op jou omstandighede. Jy kan ter eniger tyd hierdie batesamestelling hersien om vir veranderde beleggingsomstandighede voorsiening te maak, sonder om boetes te betaal.

Aangesien effektetrust portefeuljes in ‘n verskeidenheid onderliggende bates belê, word die risiko verbonde aan jou belegging oor die onderliggende bateklasse versprei. As enige van hierdie bates swak presteer, sal jou totale belegging nie noodwendig swak presteer nie, aangesien ander bates goed kan presteer. Dit help om jou kanse op goeie opbrengste te verbeter en risiko te verminder.

Buitelandse Blootstelling

Effektetrusts kan u blootstelling aan buitelandse beleggingsgeleenthede bied sonder om u buitelandse toelae te gebruik.

Professionele Bestuur

Effektetrusts word deur kundige fondsbestuurders bestuur. Deur aktiewe en professionele bestuur poog hulle om jou opbrengste te maksimeer, terwyl die risiko verminder word.

Inflasiekloppende Prestasie

Genoegsame blootstelling aan groeibates (aandele en eiendom) lewer opbrengste in die vorm van kapitaalgroei en inkomste en behoort oor die langer periodes inflasie beduidend uit te presteer. Die voordeel van hierdie belegging lê in die tydperk wat jy jou geld in die belegging los om te kan groei en effekte trusts moet as medium na langtermynbelegging beskou word.

Verslagdoening van Prestasie

Wetgewing vereis dat sekere feite aan die publiek beskikbaar gemaak word. Verreweg die meeste fondse publiseer ‘n maandelikse feitestaat wat onder andere besonderhede oor die fonds se blootstelling aan bateklasse, prestasiesyfers en marksiening van die fondsbestuurder deurgee.

Deursigtigheid en Kompeterende Kostestrukture

Die aanvanklike fooie en bestuurskoste fooie moet ten volle geopenbaar word en beleggers kan sodoende fondsbestuurders wat uitermatig hoë fooie hef uitskakel.

Belasting Doeltreffendheid

Inkomste (rente en dividend) en kapitaalwinste op effektetrusts word belas in die hande van die belegger. Effektetrust maatskappye verskaf jaarliks state aan beleggers wat alle transaksies vir belastingdoeleindes reflekteer en verminder die las op individue om self hierdie berekeninge te doen.

Beskerming vir die Belegger

Die wet op die beheer van kollektiewe beleggingskemas reguleer die bestuur van effektetrust fondse. Finansiële raadgewers wat beleggings in effektetrusts hanteer, moet by die raad op finansiële dienste geregistreer wees.

Kontak gerus een van ons kundige adviseurs indien u verdere inligting verlang.

Bostaande is slegs ter inligting en is geensins advies nie. Boshoff Visser Konsult Edms. Bpk. raai alle lesers aan om met ‘n kundige finansiële adviseur in verbinding te tree voordat enige besluite geneem word.

Recent Posts
Verified by MonsterInsights