Hoe is fidusiêre dienste op jou van toepassing

Die term “fidusiêr” verwys na ‘n persoon of organisasie wat onderneem om namens iemand anders op te tree in ‘n spesifieke aangeleentheid wat lei tot ‘n vennootskap van wedersydse vertroue. Die woord vind sy oorsprong uit die Latynse woord “fiducia” wat beteken “vertroue”.

Op een of ander stadium van jou of jou afhanklikes se lewe sal jy heel waarskynlik van ‘n fidusiêre praktisyn se dienste gebruik maak. Daarom, indien jy nog nie het nie, is dit noodsaaklik om ‘n testament op te stel. Alhoewel iemand ouer as 18 jaar self ‘n testament kan opstel, word dit aanbeveel om een op te stel met die hulp van iemand wat kundigheid het oor wetlike- en belastingimplikasies.

‘n Belangrike aspek van enige testament is die aanstelling van ‘n eksekuteur, wat beheer van jou boedel sal neem die oomblik wanneer jy tot sterwe sou kom. Hierdie persoon sal verantwoordelikheid neem van jou finansiële sake en sal seker maak dat alle bates verdeel word soos in die testament bepaal word.

Alhoewel dit gereeld voorkom dat ‘n familielid as eksekuteur benoem word, is dit nie altyd die beste besluit nie. ’n Eksekuteur moet die proses volg wat deur die Boedelwetgewing uiteengesit word en ook bewyse kan lewer dat daar aan alle wetlike vereistes, soos vereis deur die Hooggeregshof, voldoen is.

Indien jy enige afhanklikes het, moet jy ‘n boedel opstel om jou bates vir die volgende generasie te beskerm en te bewaar. Jou boedelbeplanning moet ‘n paar aspekte in ag neem: om seker te maak daar is genoegsame likiditeit in jou boedel om alle kostes te dek soos bv. skuld, boedelbelasting, belasting, erfporsies en begrafniskoste. Maak ook seker dat daar voorsiening gemaak word vir jou eggenoot en minderjarige kinders, wat dalk beteken dat ‘n testamentêre trust opgestel moet word. Indien jy ‘n eienaar of mede-eienaar van ‘n besigheid is, is opvolgbeplanning ook noodsaaklik.

As jy aan ‘n aftreefonds behoort en minderjarige kinders het, is dit waarskynlik dat die trustees van die fonds enige doodsvoordeel aan die minderjarige bevoordeeldes sal uitbetaal in ‘n begunstigde fonds, wat deur sy eie trustees geadministreer word.

Ten slotte: ‘n Fidusiêr (trustee) kan ‘n individu of ‘n maatskappy wees wat bates besit namens ‘n ander party, dikwels met die wetlike gesag om namens die party besluite te neem rakende finansiële sake. Die fidusiêr is verplig om toe te sien dat hy of sy in die belang van die begunstigdes optree, eerder as vir eie gewin. In Suid-Afrika word die term die meeste gebruik om te verwys na ‘n bedryf waarin die plig van sorg en vertroue die belangrikste is wanneer dit kom by die gebied van boedelbeplanning, die opstel van testamente, en die administrasie van trusts, boedels en begunstigde fondse. Fidusiêre dienste help baie wanneer dit kom by die oordrag van persoonlike finansies en welvaart gedurende hierdie leeftyd en daarna.

Recent Posts
Verified by MonsterInsights