Weg is my winste? Q3 Y18
In ons vorige skrywe het BVSA gewaarsku teen onsekerheid en wisselvalligheid in die plaaslike en internasionale ekonomie en politieke omgewing. Die persone met mag en gesag het nie teleurgestel nie. Die man op straat, gewone beleggers en pensionarisse, is almal besig om slaap te verloor oor die wêreld, ons land en hul swaar verdiende geld. Hulle lê snags en wonder wat om te doen en of daar ’n toekoms is vir beleggings.
Met ‘n voortslepende handelsoorlog wat eers gaan vererger voor dit verlig, ontluikende markte se onstabiliteit en Suid-Afrika se legio uitdagings, van likiditeit tot ’n ANC magstryd, lyk die toekoms onseker en donker.
Die Rand is onder druk, eiendomsreg bly ’n vraagstuk en kwynende kapitaal raak ’n uitdaging vir ieder en elk. Meeste beleggers se winste is die afgelope 8 maande uitgewis en inflasie byt aan hul hakke.
Bogenoemde is die realiteit en ons kan nie ’n datum gee wanneer dit gaan verbeter nie. Vrae wat ons daagliks van ons kliënte kry is: “Moet ek al my beleggings skuif buiteland toe?”, “Is Suid-Afrika gedoem?” en “Moet ek nie eerder al my beleggings in vaste rente by die bank belê nie?”
As finansiële adviseurs moet ons kyk na elke kliënt se situasie. Dit sluit in of die kliënt voor of na-aftrede is, trek die persoon inkomste uit sy/haar beleggings, watter persentasie van kapitaal trek die kliënt as inkomste, risiko profiel, batewaarde, ens.
Om jou geld landuit te neem vir ’n ander wisselkoers is nie net ’n koue oornag besluit nie. Om inkomste uit buitelandse bates te trek is nie altyd koste-effektief nie en inkomste (rente, dividende en huurinkomste) is aansienlik laer as in SA.
Vaste rente is nie noodwendig die oplossing nie, aangesien daar inkomstebelasting op rente betaalbaar is. Die rente vrystelling is nie wesenlik in ’n portefeulje vir aftrede nie. Dit is wel ’n goeie plek om jou noodfonds te hou.
Banke adverteer koerse van tot 13% verneem ons, maar dan moet jou geld vas wees vir 5 jaar. Jy het geen likiditeit nie. Die 13% moet ook teruggewerk word na ’n jaarliks saamgestelde koers. Dan is dit maar 10,05% per jaar. Dit is 22,7% (2,95/13) minder inkomste per jaar as wat meeste mense hulle somme op maak.
In 2001 het meeste beleggers ook gedink ons land is gedoem en daar is geen toekoms vir die Rand en ons ekonomie nie. Ons reken Suid Afrika en sy mense sal deur hierdie laagtepunt ook kom.
Wat om te doen?
Moenie op emosie alleen optree nie. Ons vergeet so gou die dubbel syfer groei oor die afgelope dekade. Kry kundige hulp. Buitelandse blootstelling in Rand gedenomineerde fondse is ’n opsie om te oorweeg. Dit is as jou plaaslike fonds nie reeds minstens 30% (of meer) direkte buitelandse blootstelling het nie. Ons is dit eens dat buitelandse blootstelling ’n moet is in ‘n portefeulje.
Q4 Y18 Wat lê voor?
Amerika faseer nog invoertariewe op Chinese goedere in, Engeland se tyd loop uit vir ’n sinvolle Brexit ooreenkoms en Suid-Afrika se verkiesing is eers in Mei 2019.
Plaaslike en internasionale aandele het die afgelope twee maande beduidend gedaal en ontstaan daar koop geleenthede teen billike pryse. Dit gaan die mark ondersteun, maar nie wisselvalligheid en onsekerheid laat verdwyn nie.
Nou meer as ooit is dit belangrik om ’n langtermyn uitkyk ten opsigte van jou beleggings te neem en kundige finansiële en beleggings advies te ontvang.
Outeur: Guillaume Oberholzer, BVSA beleggings en finansiële beplanning