Beleggingskommentaar: Navigasie deur onstuimige finansiële lugruimtes

 In News

Dames en Here, dit is die kaptein wat praat…

Ons beweeg tans deur ontstuimige lugruim.

Die onstuimigheid in wêreldwye finansiële markte het in Maart voortgeduur weens die langdurige onsekerheid rondom die VSA se nuwe buitelandse beleid en die inkonsekwente, onvoorspelbare implementering van handelstariewe. Ons het waargeneem hoe die Trump-administrasie permanente skade aan verhoudings met Amerika se naaste bondgenote aangerig het. Die Kanadese eerste minister het reeds amptelik verklaar dat die noue verhouding tussen die twee lande iets van die verlede is, en Europa het, na aanleiding van Trump se hantering van Oekraïne, tot dieselfde gevolgtrekking gekom.

Boonop is die belastingverlagings wat deur President Trump in sy veldtog belowe is, nog nie geïmplementeer nie, maar handelstariewe dien effektief as ‘n belastingverhoging op ingevoerde goedere wat die Amerikaanse verbruiker moet betaal. Die verdere eskalasie van die handelsoorlog aan die begin van April het die goeie stand van multinasionale besigheidsverhoudings in die gedrang geplaas en ‘n warrelwind in wêreldwye finansiële markte veroorsaak, terwyl beleggers poog om die impak van die nuwe tariewe en alle vergeldingstariewe op wêreldhandel en sakeverdienste te bepaal.

In Suid-Afrika het die plaaslike aandelemark aanvanklik redelik goed presteer, ten spyte van nasionale begrotingsonsekerheid en kommer oor Suid-Afrikaanse uitvoerders se blootstelling aan die VSA-gesentreerde handelsoorlog.  Vrese het egter grotendeels gerealiseer toe President Trump ‘n 30%-tarief op goedere uit Suid-Afrika in sy lang lys van invoertariewe ingesluit het.

Maak u veiligheidsgordel vas, sit terug en ontspan.

Al is tye ontstuimig, glo ons dat geleenthede steeds volop is, veral as die wind draai en die storm opklaar. Dit bly ons primêre doelwit om groeigeleenthede na te streef op ‘n wyse wat ons kliënte nie blootstel aan risiko’s wat tot die permanente verlies van kapitaal kan lei nie.

In Maart het ons ons algehele blootstelling aan tegnologie verminder, wat beskerming gebied het teen die ergste deel van die storm. Ten spyte van die houe wat die industrie getref het, bly daar steeds vooruitgang in innovasie binne die tegnologie-sektor.  ‘n Pryskorreksie was moontlik nodig, maar daar is steeds wesenlike groeigeleenthede binne die sektor. China is vinnig besig om een van die wêreldleiers in tegnologie en kunsmatige intelligensie te word, en tog verhandel Chinese maatskappye teen beduidend laer pryse as hul Amerikaanse eweknieë. Ons het ‘n klein posisie ingeneem om blootstelling aan die Chinese tegnologie-sektor te verkry, maar landspesifieke risiko’s het vereis dat posisiegroottes beperk bly.

Die sogenaamde “America First”-benadering word nou ook deur die Amerikaanse weermag opgeneem, wat die Weste angstig laat, aangesien die VSA-sekuriteitsambreel – waaraan hulle gewoond geraak het – stadig verdwyn.  Met die Rusland-Oekraïne-oorlog op hul grens, het Europese leiers hulself verbind om militêre besteding drasties te verhoog. Dit stimuleer die ekonomie en lei dikwels tot innovasie wat na die privaat sektor deurvloei. Boonop skep die beplande fiskale stimulus van die nuutverkose Duitse regering beleggingsgeleenthede in ‘n relatief onderwaardeerde Europa.

Om voordeel te trek uit die geleenthede wat deur die internasionale gebeure geskep is, het ons twee nuwe posisies in fondse ingeneem.  Hierdie fondse identifiseer maatskappye in markte soos China en Europa wat goed geprys en geposisioneer is om te baat uit die tektoniese verskuiwings in internasionale markte.  Hierdie posisies dien as diversifiserende beleggings in die breër portefeulje, en bied ’n alternatiewe bron van opbrengs tot die tipiese buitelandse fonds wat swaar steun op die Amerikaanse mark.

Namens die kajuitpersoneel, dankie dat u saam met ons vlieg.

Die MitonOptimal IP Flexible Growth Fund streef daarna om medium- tot langtermyn kapitaalgroei van inflasie plus 5% aan kliënte te bied vanuit ‘n portefeulje wat ‘n matige tot hoë risikoprofiel handhaaf met redelike kapitaalstabiliteit. Alhoewel die fonds nie immuun is teen korttermyn-onstuimigheid nie, het die fonds ‘n meer bestendige rit as dié van beide die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse markte gebied, en opbrengste gelewer met aansienlik laer wisselvalligheid, sonder dat kliënte blootgestel word aan die skerp dalings van die aandelemarkte.

Dankie dat u BVSA as u finansiële vennoot kies. Ons streef daarna om u reis so gemaklik as moontlik te maak en u finansiële sukses tot nuwe hoogtes te laat styg.

Geskryf deur Kobus Jansen van Vuuren

*BVSA ondersteun MitonOptimal met die beleggingsbestuur van die MitonOptimal IP Flexible Growth Fund, wat spesifiek vir BVSA-kliënte bestuur word en gebruik word as die primêre groeikomponent in die meeste van ons kliënte se portefeuljes.

 

Recent Posts
Verified by MonsterInsights