Die Bul in die Porseleinwinkel

 In News

Met die inhuldiging van president Donald Trump in Januarie het ons die aanbreek van ‘n nuwe era in Amerikaanse en wêreldpolitiek aanskou. Die steun van ‘n Republikeinse meerderheid in beide die Huis van Verteenwoordigers en die Amerikaanse Senaat het president Trump in staat gestel om die reëlboek van moderne politiek by die venster uit te gooi om sy veldtogbeloftes vinnig in werking te stel.  Hy het dit duidelik gemaak dat selfs die land se bure, asook sy naaste politieke- en handelsvennote, kwesbaar is weens sy implementering van ‘America First’-beleide.  Die nuwe president pronk graag met die mag van die Amerikaanse ekonomie en sodoende beklemtoon hy hoe afhanklik die res van die wêreld geword het van goeie betrekkinge met die Verenigde State.

Skaars twee weke in die pos het hy reeds aangekondig dat hoë tariewe op invoere uit Kanada en Mexiko gehef sou word—nie weens handel nie, maar eerder weens onvoldoende grensbeheer en die gevolglike onwettige immigrasie en dwelmhandel na die Verenigde State. Kort voor implementering is hierdie tariewe egter uitgestel, aangesien die leiers van albei buurlande bereid was om met die Amerikaanse regering in gesprek te tree om die onderliggende probleme aan te spreek. Dit laat ‘n mens wonder in watter mate die miljardêr-sakeman en skrywer van The Art of the Deal regeringsbeleid met besigheidsgeïnspireerde onderhandelingstegnieke benader vanuit die Oval Office.

Boonop het die sterk Amerikaanse bulmark, wat grootliks deur vooruitgang in tegnologie en kunsmatige intelligensie gedryf word, die VSA se ekonomie aansienlik versterk. Die groei van die sogenaamde Vierde Nywerheidsrevolusie is grotendeels gekonsentreer in ‘n handjievol Amerikaanse maatskappye, met die gevolg dat die Amerikaanse mark teen die einde van 2024 meer as 50% van die wêreldmark se waarde uitmaak[1]. Dit gee enorme gewig aan die omstrede dreigemente en optrede van die president en laat selfs die ontwikkelde wêreld versigtig wees vir wat sommige sien as ‘n cowboy op die rug van ‘n bul wat al hoe sterker raak.

Alhoewel dit binne die ‘Make America Great Again’-ideologie gevier word, sien ons, as ons deur die res van die wêreld se bril kyk, ‘n groot mate van angs. Ontluikende markte is veral baie bewus van hul porseleinfyn broosheid in die teenwoordigheid van die nuwe Amerika, met die wete dat enige botsing met die Withuis onvoorspelbare reaksies kan ontlok wat hul ekonomieë in skerwe kan laat lê.

Terwyl baie lande angstig is om in Amerika se goeie boekies te bly, ignoreer president Trump die subtiele status quo van internasionale betrekkinge. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die gewaagde ‘Rivièra van die Midde-Ooste’-voorstel vir die uiters ingewikkelde en histories-komplekse  Midde-Oosterse krisis, waarin hy die hervestiging van die hele bevolking van die Gaza-strook na naburige lande en die skepping van ‘n florerende ekonomiese sentrum en toeristebestemming, as ‘n oplossing voorgestel het. Alhoewel dit aanvanklik na ‘n uiters vergesogte idee geklink het, is dit steeds deur Israel en die VSA as ’n opsie op die tafel beskou teen die tyd dat hierdie artikel gepubliseer is.

Soortgelyk het Suid-Afrika gewoond geraak aan die wêreld se versigtige kommentaar op binnelandse beleid, gegewe ons komplekse verlede en dikwels gespanne rasseverhoudinge. Dit was dus ‘n groot skok toe president Trump die internasionale kollig op ons gevestig het kort nadat president Ramaphosa die omstrede Onteieningswet onderteken het. Dit, tesame met Suid-Afrika se reputasie vir steun aan vyande van die VSA, insluitend Hamas en Rusland, het ‘n skaduwee van onsekerheid oor die toekoms van Amerikaanse befondsing, kapitaalbeleggings en handel gegooi. Suid-Afrika staan nou voor ‘n kruispad waar die regering moet besluit of dit ‘n baie magtige vriend of vyand wil hê.

Wat beteken dit vir die Suid-Afrikaanse belegger?

Eerstens is die Amerikaanse ekonomie groot, sterk en groei steeds. President Trump se ‘America First’-beleid en beloftes om ‘n besigheidsvriendelike omgewing te vestig, deur deregulering en laer belasting, skep vele beleggingsgeleenthede. Boonop sien ons hoe kunsmatige intelligensie besig is om verskeie industrieë te hervorm, terwyl maatskappye na hoër effektiwiteit en produktiwiteit streef.

Tweedens skep die onsekerheid nuwe geleenthede. Lande wat bereid is om volgens die nuwe Amerikaanse reëlboek te speel, sal waarskynlik die ekonomiese wenners van die nabye toekoms wees, aangesien alle handelsverhoudinge blykbaar weer op die tafel is vir heronderhandeling.

Laastens is die bittereinders steeds dié wat aanpas om te oorleef. Skokke en ontwrigtings in wêreldpolitiek en finansiële markte is niks nuut nie. Goeie maatskappye met sterk bestuur en uitmuntende sakemodelle word nie gemeet aan hul prestasie as alles glad loop nie, maar juis aan hul vermoë om aan te pas soos uitdagings en geleenthede opduik. Die huidige marktoestande in Suid-Afrika en groot dele van die wêreld skep ‘n omgewing waar baie slegte nuus en negatiewe beleggersentiment die pryse van topgehalte maatskappye afdruk en ‘n ideale koopgeleentheid bied vir die langtermynbelegger.

– Kobus Jansen van Vuuren

26 Feb 2025

 

[1] Isabel Wang, “U.S. stocks dominated global markets in 2024 – why they likely won’t in 2025,” Morningstar, Dow Jones MarketWatch, 7 Jan 2025, https://www.morningstar.com/news/marketwatch/2025010736/us-stocks-dominated-global-markets-in-2024-why-they-likely-wont-in-2025.

Recent Posts
Verified by MonsterInsights