Die Meester se Finale Vereistes

Na goedkeuring van die Likwidasie- en Distribusierekening sal die Meester van die Hoë Hof (Meester) ‘n J242 memorandum uitreik. Hierdie dokument bevat die finale vereistes waaraan die eksekuteur moet voldoen voordat die boedel by die Meester gefinaliseer kan word.

Die Meester se finale vereistes bestaan uit drie segmente, naamlik:

A. Vereistes voordat die Likwidasie- en Distribusierekening geadverteer kan word

Hierdie vereistes bestaan gewoonlik uit uitstaande dokumentasie wat nog nie aan die Meester voorgelê is nie. Sommige hiervan sluit die volgende in:

  • Huweliksvoorwaardekontrak
  • Boedelbelastingopgawe
  • Volmag waaronder die rekening onderteken is
  • Egskeidingsbevele

Daar moet eers aan die bogenoemde vereistes voldoen word voordat die eksekuteur kan voortgaan om die tweede stel advertensies te adverteer. Indien iets oorgeslaan word, kan dit lei tot onnodige vertragings omdat die Meester u kan forseer om weer te adverteer.

B. Vereistes voor distribusie

Sodra die Meester toestemming gegee het om die tweede stel advertensies te plaas, kan die eksekuteur voortgaan om alle belanghebbende partye in kennis te stel dat ‘n afskrif van die Likwidasie- en Distribusierekening beskikbaar gestel sal word vir openbare inspeksie by die Meesterskantoor en die naaste Landdroskantoor in die streek waar die oorledene die laaste 12 maande van sy/haar lewe gewoon het.

Sodra die Meester voorsien is met ‘n bewys van die advertensie van die rekening, kan die eksekuteur voortgaan met die laaste segment van die vereistes.

C. Vereistes nadat die boedel, vry van enige besware, ter insae gelê het

Dit sluit oor die algemeen die volgende in:

  • Bewys van betaling van boedelbelasting
  • Bewys van betaling van Meestersgelde
  • Bewys van distribusie aan erfgename
  • Bewys dat alle krediteure in die boedel betaal is
  • Bewys van oordrag van enige eiendomme
  • Volledige stel bankstate en betaalde tjeks

Sodra die Meester voorsien is van ‘n bewys van die laaste segment van vereistes, kan die Meester genader word vir toestemming om die eksekuteur te voorsien van ‘n J183 wegbêresertifikaat as bewys dat die boedel afgehandel is. Die J183 wegbêresertifikaat mag egter nie as ‘n formele ontslag van die eksekuteur in terme van artikel 56(1) van die Boedelwet 66 van 1965 beskou word nie. ‘n Eksekuteur kan slegs van sy/haar pligte ontslaan word deur ‘n formele aansoek te rig aan die Meester.

Hierdie is die laaste stap in die boedelproses.

Hiermee die finale skematiese voorstelling van die volledige boedelproses:

Boedelbereddering

Stap 1: Rapportering van die Boedel

Tydsduur: 4–8 weke

Stap 2: Eksekuteursbrief

Tydsduur: 4–6 weke

Stap 3: Advertensies

Tydsduur: 4 weke

Stap 4: Likwidasie- en Distribusierekening

Tydsduur: 4–8 weke

Stap 5: Meester se Finale Vereistes

Tydsduur: 6–12 weke

Let op: As daar eiendom is wat uit die boedel uit oorgedra moet word, kan die proses langer duur aangesien die Akteskantore hul eie omkeertye het.

Ons fidusiêre span by BVSA Konsult het jare se ondervinding in boedelbereddering en is professioneel toegerus om u te help met enige aangeleenthede wat daarmee verband hou.

Kontak gerus een van ons kundige adviseurs indien u verdere inligting verlang.

Bostaande is slegs ter inligting en is geensins advies nie. BVSA Konsult Edms Bpk. raai alle lesers aan om met ‘n kundige finansiële adviseur in verbinding te tree voordat enige besluite geneem word.

Artikel geskryf deur Reghardt Draper

Recent Posts
Verified by MonsterInsights