Rampbestuur belastingverligting
Op 1 April 2020 het Nasionale Tesourie die konsepwetsontwerp vir belastingverligting gedurende die huidige COVID-19 pandemie gepubliseer.
Aangesien die staat van inperking die kontantvloei van baie besighede ernstig gaan affekteer, het die regering ’n aantal voorstelle daargestel om belastingverpligtinge op besighede oor die volgende paar maande te verslap.
Die wetsontwerp is nog in die konsepfase en die publiek word dus uitgenooi om kommentaar daarop te lewer voor of op Woensdag 15 April 2020.
Die konsepwetsontwerp word in die volgende kategorieë opgesom:
- Uitstel van werknemersbelastingbetalings (LBS)
- Uitstel van voorlopige belastingbetalings
- Uitbreiding van die Indiensneming-belastingaansporingskema (ETI) se ouderdomkriteria
Uitstel van werknemersbelastingbetalings (LBS)
Verligting is beskikbaar in die vorm van die uitstel van werknemersbelastingbetalings (LBS) vir kwalifiserende belastingpligtiges. ’n Kwalifiserende belastingpligtige is ’n maatskappy, trust, vennootskap of individu wat geregistreer is vir werknemersbelasting met ’n bruto omset van R50 miljoen of minder vir die jaar van aanslag wat eindig op of na 1 April 2020 maar voor 1 April 2021.
Vanaf die April 2020-periode wat betaalbaar is op 7 Mei 2020 tot die Julie 2020 periode wat betaalbaar is op 7 Augustus 2020, sal kwalifiserende belastingpligtiges toegelaat word om 20% van hulle werknemersbelasting betalings (LBS) uit te stel tot later in die jaar.
Daar moet gelet word op die belangrike feit dat die wetsontwerp net verwys na werknemersbelasting (LBS) ingevolge par 2(1) van die vierde bylae tot die Inkomstebelastingwet. Dit beteken dat die uitstel van betalings nie van toepassing is op die meegaande werkloosheidversekeringsfondsbydraes (WVF) of SDL-betalings nie.
Die uitgestelde werknemersbelastingbetalings (LBS) sal wel betaalbaar wees in ses gelyke maandelikse paaiemente wat begin vanaf die Augustus 2020-periode (betaalbaar op 7 September 2020) tot en met die Januarie 2021-periode (betaalbaar op 7 Februarie 2021).
Vir die duur van die uitstelperiode sal geen boetes of rente gehef word op enige uitstaande werknemersbelastingbetalings nie, maar as daar laat betalings is in die toekomstige periodes waar hierdie uitgestelde bedrae verskuldig is, mag SARS wel boetes en rente hef.
Die volgende voorbeeld verduidelik die uitstelverligting:
Periode | EMP201 LBS verskuldig | MIN 20% uitgestel |
GELYK AAN 80% betaalbaar |
INGEDIEN TEEN |
Apr-20 | 100 000.00 | 20 000.00 | 80 000.00 | 07-Mei-20 |
Mei-20 | 105 000.00 | 21 000.00 | 84 000.00 | 05-Jun-20 |
Jun-20 | 110 000.00 | 22 000.00 | 88 000.00 | 07-Jul-20 |
Jul-20 | 105 000.00 | 21 000.00 | 84 000.00 | 07-Aug-20 |
KONTANTVLOEIVERLIGTING | 84 000.00 | |||
Periode | BEDRAG BETAALBAAR | INGEDIEN TEEN | ||
Aug-20 | 14 000.00 | 07-Sep-20 | ||
Sep-20 | 14 000.00 | 05-Okt-20 | ||
Okt-20 | 14 000.00 | 06-Nov-20 | ||
Nov-20 | 14 000.00 | 07-Des-20 | ||
Des-20 | 14 000.00 | 07-Jan-21 | ||
Jan-21 | 14 000.00 | 05-Feb-21 | ||
84 000.00 |
Uitstel van voorlopige belastingbetalings
Verligting is ook beskikbaar in die vorm van die uitstel van voorlopige belastingbetalings vir kwalifiserende belastingpligtiges. Hierdie belastingpligtiges mag ’n gedeelte van hulle voorlopige belastingbetalings uitstel sonder die risiko van boetes of rente vir die laat betaling van die uitgestelde bedrag.
Indien die eerste voorlopige belastingbetaling verskuldig is tussen 1 April 2020 en 30 September 2020, hoef kwalifiserende belastingpligtiges net 15% van hulle totale belastingaanspreeklikheid vir die jaar te betaal as die eerste voorlopige belastingbetaling, in plaas van die normale 50%.
Die tweede voorlopige belastingbetaling sal weer net gebaseer word op 65% van die totale belastingaanspreeklikheid vir die jaar in plaas van 100% indien die betaling verskuldig is tussen 1 April 2020 en 31 Maart 2021.
Die balans van die uitstaande inkomstebelastingaanspreeklikheid sal betaalbaar wees as ’n derde voorlopige belastingbetaling volgens die normale reëls om rente te vermy.
Die volgende voorbeeld illustreer die uitstelverligting:
’n Maatskappy met ’n finansiële jaareinde van 28 Februarie 2021 sal hulle eerste voorlopige belastingbetaling moet maak gedurende die verligtingperiode. Indien die maatskappy skat dat sy 2021 belasting aanspreeklikheid R500 000 gaan wees vir die jaar, sal net 15% van daardie bedrag as ’n eerste voorlopige belastingbetaling gemaak moet word. Hierdie betaling is verskuldig teen 31 Augustus 2020 en sal dus net R75 000 wees in plaas van R250 000 indien die normale reëls gegeld het.
Die tweede betaling wat verskuldig is teen 28 Februarie 2021 sal net 65% van die totale belastingaanspreeklikheid vir die jaar beloop. Dit beteken dat die totaal van die eerste twee voorlopige belastingbetalings ten minste 65% van die totale belastingaanspreeklikheid moet wees. Die betaling sal soos volg bereken word:
Totale belastingaanspreeklikheid: R500 000
65% verskuldig aan die einde van die periode: R325 000
Min: 1ste voorlopige belastingbetaling: (R75 000)
2de voorlopige belastingbetaling verskuldig: R250 000
Die oorblywende 35% (R175 000) van die totale belastingaanspreeklikheid is betaalbaar teen 30 September 2021 om rente te vermy.
’n Maatskappy met ’n 30 Junie 2020 finansiële jaareinde sou alreeds sy eerste voorlopige belastingbetaling gemaak het op 31 Desember 2019 wat buite die verligting periode geval het. Dit beteken dat 50% van die maatskappy se totale belastingaanspreeklikheid alreeds betaal is teen die tyd wat die tweede voorlopige belastingbetaling verskuldig word.
Hierdie tweede betaling vind nou plaas binne die verligting periode en sal soos volg bereken word:
Totale belastingaanspreeklikheid: R500 000
65% verskuldig aan die einde van die periode: R325 000
Min: 1ste voorlopige belastingbetaling: (R250 000)
2de voorlopige belastingbetaling verskuldig: R 75 000
Uitbreiding van die Indiensneming-belastingaansporingskema (ETI) se ouderdomkriteria
Om die verlies aan werksgeleenthede te minimaliseer, sal die Indiensneming-belastingaansporingskema (ETI) uitgebrei word van 1 April 2020 tot 31 Julie 2020. Daar is drie aanpassings wat deur die regering voorgestel word:
- Vir huidige werknemers wat in aanmerking kom vir ETI, sal die bedrae wat geëis kan word, verhoog word van R1 000 tot R1 500 in die eerste periode van 12 maande en van R500 tot R1 000 in die tweede periode van 12 maande.
- ’n Addisionele R500 mag per werknemer geëis word wat tussen die ouderdomme van 18 en 29 is en wat nie meer in aanmerking kom vir ETI nie aangesien die werkgewer alreeds vir ’n volle periode van 24 maande ETI vir die werknemers geëis het asook vir werknemers wat tussen die ouderdomme van 30 en 65 is.
- Maandelikse in plaas van sesmaandelikse uitbetalings van ETI-krediete sal gemaak word.
Hierdie aansporingsmaatreëls sal net van toepassing wees op werkgewers wat geregistreer was teen 1 Maart 2020 en kan soos volg geïllustreer word:
Maandelikse vergoeding | Kwalifiserende werknemers (18 tot 29 jaar oud) [Eerste 12 maande periode] |
Kwalifiserende werknemers (18 tot 29 jaar oud) [Tweede 12 maande periode] |
1. Kwalifiserende werknemers (18 tot 29 jaar oud en buite die periode van 24 maande) 2. Kwalifiserende werknemers (30 tot 65 jaar oud (Net van 1 April 2020 tot 31 Julie 2020) |
R0 tot R2 000 | R500 + (50% x maandelikse vergoeding) | R500 + (25% x maandelikse vergoeding) | R500 |
R2 000 tot R4 500 | R1 500 | R1 000 | |
R4 500 tot R6 500 | R1 500 – (75% x (vergoeding R4 500)) | R1 000 – (50% x (vergoeding R4 500)) | R500 – (25% x (vergoeding R4 500)) |