Lesse uit die verlede

Aandelebeurse wêreldwyd is in chaos gedompel vanweë die vrees en onsekerheid wat die COVID-19 virus saai. Hierdie vrees en onsekerheid is baie meer aansteeklik as die virus self.

Die feite is dat die beurse wêreldwyd met 30% en meer gedaal het, met daaglikse fluktuasies van tot 12%. Teen die tyd wat u hierdie lees kan dit meer of minder wees…

Wat hierdie val in die aandelebeurse verskillend maak van die vorige gevalle is dat dit die skerpste (nie grootste nie) val van alle groot finansiële krisisse tot dusvêr is. Die tweede verskil is dat jy werklik kan siek word en moontlik sterf. Dit veroorsaak dat menslike gedrag totaal onvoorspelbaar raak en dit manifesteer dan in aandelebeurse.

In teenstelling met die aanvaarde gevoel is hierdie krisis nie groter as krisisse van die verlede nie. Ons vergeet vinnig hoe ons gevoel het in 2008 met die banke en skuld krisis of hoe ons reageer het toe ons die TV aansit in 2001 en die Wêreld Handelsentrum stort in duie.

Die sinvolste reaksie in onseker tye is om logies, nie paniekbevange, op te tree met jou beleggings en om heel waarskynlik niks te doen nie. Geskiedenis bewys dit. Dit voorkom ook emosionele reaksies waarteen ons al soveel keer gewaarsku het. Hierdie is nie lekker om te hoor nie, maar dit is die regte besluit.

U fondse is belê om u langtermyn doelwitte te behaal deur in bateklasse en maatskappye te belê wat oor 10 jaar en langer vir u inkomste en kapitaalgroei kan bied.

Hoe lank die huidige krisis gaan duur en wat al die gevolge vir markte en die mensdom gaan wees, weet niemand nie. Wat ons wel weet is dat meeste maatskappye in die wêreld beter gerat is om ‘n krisis te hanteer as wat hulle in 2008 was toe hulle voortbestaan in die visier was.

Die volgende tabel toon die herstel van die markte na die einde van soortgelyke krisisse:

Uit hierdie tabel is dit duidelik dat die herstel na ‘n groot krisis meestal net so skerp is soos die val. Die hele verlies word nie noodwendig dadelik uitgewis nie, maar as jy die aanvanklike herstel mis neem dit jou jare om jou kapitaal te herwin.

‘n Voorbeeld is Standard Bank, ‘n aandeel waaroor ons baie positief was en steeds is. Die prys verdienste is tans 5,7. Gedurende 2008 het dit gedaal na 8,5 keer verdienste en toe was Standard Bank (en ander banke) se voortbestaan in gedrang. Die dividend opbrengs is tans 10%, wat aansienlik meer is as die rente wat hulle kliënte bied. Al word die dividend met 20% gesny, is dit steeds 8% en ‘n fantastiese opbrengs.

In tye soos hierdie is dit belangrik om by u bestaande langtermynplan te hou en met ons te gesels oor vrae en bekommernisse. Al ons adviseurs is gedurende die volgende drie weke aan diens vanaf hulle huise en u is welkom om ons te kontak via die skakelbord of op ons selfone.

Kontak gerus een van ons kundige adviseurs indien u verdere inligting verlang.

Bostaande is slegs ter inligting en is geensins advies nie. BVSA Konsult Edms Bpk. raai alle lesers aan om met ‘n kundige finansiële adviseur in verbinding te tree voordat enige besluite geneem word.

Artikel geskryf deur Guillaume Oberholzer

Recent Posts
Verified by MonsterInsights