Eksekuteursbrief
Goed, so nou is die boedel by die Meester van die Hoë Hof aangemeld. Nóú wat? Die tweede stap in die proses verg baie geduld omdat jy eenvoudig moet wag. Sodra die Meester tevrede is met die inhoud van die dokumentasie wat ingedien is, sal daar ‘n eksekuteursbrief uitgereik word. Die aangestelde eksekuteur/agent in die betrokke boedel kan niks sonder hierdie brief doen nie. Sien dit as jou toegangskaartjie of paspoort – sonder dit kan jy hoegenaamd met niks voortgaan nie. Die eksekuteur/agent sal hierdie wagtydperk benut om inligting in te samel om sodoende ‘n unieke databasis en werkstasie vir elke boedel te skep. Dit maak dit makliker om rekord te hou van alle transaksies en dien ook as die perfekte hulpmiddel om vorderingsverslae aan al die erfgename te stuur. Boedeladministrasie is en sal altyd ‘n lang proses wees, maar dit beteken nie dat die erfgename en betrokke partye nie op hoogte gehou moet word van die vordering van die boedel nie. Maandelikse vorderingsverslae opdaterings is standaardpraktyk vir meeste regsfirmas.
Sodra die eksekuteursbrief uitgereik is, kan die eksekuteur ‘n bankrekening vir die boedel open. Hierdie rekening word hoofsaaklik vir die volgende transaksies gebruik:
- Oordragte van die oorledene se persoonlike bankrekeninge na die boedel se bankrekening.
- Aflossing van alle kontantbeleggings by die boedel se bankrekening.
- Polisuitbetalings wat aan die boedel bemaak is.
- Dividende verdien uit aandele.
- Inkomste gegenereer uit die verkoop van bates in die boedel.
Die eksekuteursbrief bevat die volgende belangrike inligting:
- Boedelnommer.
- Naam van die boedel.
- Volle name, van en ID nommer van die oorledene.
- Volle name, van en ID nommer van die eksekuteur.
- Volle name, van en ID nommer van die oorledene se gade in geval van huwelike binne gemeenskap van goedere.
Dit blyk duidelik uit die bogenoemde uiteensetting dat die eksekuteursbrief ‘n absolute móét is voor enige verrigtinge regtig kan plaasvind.
Hierdie is dan stap twee in die boedelberedderingsproses. Indien u steeds onseker is oor die dokumentasie wat aan die Meester voorgelê moet word om die eksekuteursbrief te kry, is u welkom om die Departement van Justisie se webtuiste te besoek by www.justice.gov.za.
Boedelbereddering
Stap 1: Rapportering van die Boedel
Tydsduur: 4–8 weke
Stap 2: Eksekuteursbrief
Tydsduur: 4–6 weke
Ons fidusiêre span by BVSA Konsult het jare se ondervinding in boedelbereddering en is professioneel toegerus om u te help met enige aangeleenthede wat daarmee verband hou.
Kontak gerus een van ons kundige adviseurs indien u verdere inligting verlang.
Bostaande is slegs ter inligting en is geensins advies nie. BVSA Konsult Edms Bpk. raai alle lesers aan om met ‘n kundige finansiële adviseur in verbinding te tree voordat enige besluite geneem word.
Artikel geskryf deur Reghardt Draper