Toekomsvisie vir ‘n eenvoudig en effektiewe belastingsisteem

 In Nuus

Die opskrif is gebore uit die agtergrond van ‘n komplekse belastingsisteem wat tans bestaan uit sy verskeie belasting wetgewings wat gereeld aangepas moet word om bv. moontlike belastingontduiking te keer, asook die hele proses om die verskillende tipe belastings in te vorder vanaf die belastingpligtige op die regte datum te doen.

Soos enige besigheid, het alle lande se regerings ook goeie kontantvloei nodig om al sy verpligtinge teenoor die land se inwoners na te kom.  Sonder genoeg kontantvloei moet regerings ook soos enige besigheid partymaal lenings aangaan om tydelike tekorte aan te vul.  Die lenings moet egter terugbetaal word met rente en soos die meeste van ons alreeds weet, is ons eie land se kontantvloei tans nie baie goed nie.  Die regering moet lenings ten duurste  aangaan om sy tekorte aan te vul.  Die tendens kan egter nie vir altyd so aangaan nie, want daar gaan ‘n punt kom waar die besigheid moet besef dat insolvensie sy voorland is. Iets moet daadwerklik gedoen word om moontlike insolvensie af te weer.

Indien ‘n land se regering op ‘n punt kom waar dit nie meer aan sy inwoners die nodige dienste kan lewer nie, sal daar chaos in so ‘n land uitbreek.

Volgens die verskillende belasting wetgewings wat tans bestaan, is SARS die regeringsorganisasie wat die taak/verantwoordelikheid opgelê is om alle tipe belastings in te samel van al sy inwoners (individue) en besighede (maatskappye ens.). SARS kan vergelyk word met ‘n onderneming se debiteure afdeling wat geld moet invorder van die maatskappy se kliënte volgens fakture gelewer vir dienste/verkope. Sonder SARS sal daar geen kontantvloei wees nie en die regering se bankrekeninge sal leeg wees. Die huidige regering het natuurlik die belangrike taak om die nodige infrastruktuur te skep, tesame met ‘n stabiele ekonomiese, politiese en veilige omgewing, waarin sy landburgers hul werk kan verrig en waarin besighede kan floreer.

Die artikel gaan egter nie fokus op die laasgenoemde nie, maar gaan aanneem dat die nodige infrastruktuur tesame met ‘n stabiele ekonomiese, politiese en veilige omgewing bestaan wel.   Die volgende vraag is hoe kan ons land deur middel van SARS ‘n baie beter kontantvloei verseker en ook dat belastingpligtiges hul verpligtinge ten volle nakom op die regte tyd en verder ook ten volle eerlik is?

Om die bogenoemde reg te kry, is dit nie die doel om die bestaande belasting sisteem te verbeter nie, maar eerder om radikaal te wees, of soos die Engelse gesegde sê, “Thinking outside the box”, of in Australia, “Thinking outside the square”, en hier in Suid-Afrika, sal twee goeie gesegdes wees “’n Boer maak ‘n plan” of in Xhosa, “icebo lizawzakha“.

Die radikale denke fokus op die volgende twee punte:

  • Tegnologie
  • Eenvoud

 

TEGNOLOGIE

Ons leef tans in ‘n era van geweldige tegnologiese ontwikkeling en nuwe innovasies wat alle aspekte van ons lewens aanraak. Dit is asof daar daagliks nuwe uitvindsels is en dit raak moeilik om by te hou met alles wat verander of wat nuut is op die mark. Die jonger generasie hou daarvan om te weet wat alles nuut is en beproef alle nuwe dinge, die middelste generasie (skrywer ingesluit) kan eenvoudig net nie meer byhou nie en kies net die innovasies wat voordelig is tot hul huidige manier van leef/besigheid doen en die ouer generasie stel gewoonlik net eenvoudig nie meer belang in al die veranderinge nie, want dit is heel moontlik vir die meerderheid onverstaanbaar of onnodig.  Dit maak nie saak in watter generasie jy jou tans bevind nie, tegnologie is hier en dit verander teen ‘n geweldige pas.

Die radikale idee wat ek in kort gaan voorstel in die laaste deel van die artikel, gaan geweldig steun op tegnologie en sou volgens my nie eens 10 jaar terug  naastenby moontlik gewees het nie.

EENVOUD

My persoonlike mening is dat eenvoud die beste is, as voorbeeld gebruik ek die tipe besigheid of tipe werk waarin jy jou tans bevind – probeer om altyd die eenvoud te vind in wat jy doen, moenie dinge ingewikkeld maak nie.

Ongelukkig is ons land se belastingwetgewing t.o.v. inkomstebelasting, voorlopige inkomstebelasting, kapitalewinsbelasting, belasting op donasies, BTW, LBS, SDL, UIF, boedelbelasting, dividendbelasting, doeane- en aksyns, omgewingsbelasting, hereregte, omsetbelasting, sonde belasting, brandstof heffings, Valutabeheer ens. baie gekompliseerd en die gemiddelde man/vrou op straat verstaan nie veel hiervan nie.

Selfs al is jy werksaam in die rekenmeesters/belasting bedryf, gaan jy definitief nie met al die belastingwetgewing te doen kry nie en slegs dié ken met waarmee jy gewoonlik werk.  Ek wil myself verstout en sê dat ek dink nie eens dat jou belastingspesialiste alle wetgewing ken nie, maar hulle sal definitief vir jou kan uitvind oor enige iets.  Die meeste van ons in die rekenmeester/belasting bedryf moet maar gereeld na die wetgewing boeke gaan of ‘n belastingspesialis kontak vir hulp of selfs vir SARS direk kontak as ons met iets te doen kry waarmee ons nie gewoonlik werk nie.

Die huidige inkomstebelastingwetgewing vind sy oorsprong in die “Inkomstebelastingwetgewing No. 28 van 1914” wat weer sy oorsprong kry van die “New South Wales Act of 1895”.  Die inkomstebelastingwetgewing het verskeie veranderinge daarna ondergaan en die huidige inkomstebelastingwetgewing waaronder ons val is die “Inkomstebelastingwetgewing No. 58 van 1962”.  Van 1962 tot nou is daar ook natuurlik verskeie wetgewings wat geskrap is, nuwes wat bykom, aanpassings wat gemaak word, ens.

Ek probeer nou nie vir die leser ‘n belasting les te gee nie, maar die punt wat ek probeer maak is dat ons hele belastingsisteem tesame met die verskeie belastingwetgewings nie geag kan word as eenvoudig nie – dit is inderdaad gekompliseerd en het na my persoonlike mening eenvoudig te lomp geraak.   Die huidige belastingsisteem skep weer sekerlik baie poste binne SARS, in die rekenmeester/belasting bedryf, asook in die tegnologie bedryf en ander verwante bedrywe. Dié voorsien weer die rekenmeester/belasting bedryf van nuwe innoverende sagteware en ander produkte om ons werk beter, vinniger en meer koste-effektief te maak.   My radikale voorstelling kan ongelukkig veroorsaak dat van die huidige poste sal verdwyn, maar my gevoel is dat die persone weer op nuwe gebiede binne die bedryf aangewend kan word.

 

RADIKALE IDEE VIR ‘N NUWE BELASTINGSISTEEM VIR SUID-AFRIKA

Soos genoem in die afdeling “Eenvoud” het ons huidige belastingwetgewing sy oorsprong vanaf die “Inkomstebelastingwetgewing No. 28 van 1914”, d.w.s. 105 jaar gelede, en ek dink dit is nou hoogtyd dat Suid-Afrika ook innoverend raak oor sy eie belastingsisteem, soos op alle gebiede in ons ekonomie, en dit terugbring na eenvoud en terselfdertyd ‘n wêreldleier raak in ‘n meer eenvoudige, maar tog ‘n baie effektiewe belastingstelsel.

Die idee gaan nou in kort verduidelik word, maar die implimentering van so ‘n stelsel, al is dit op eenvoud gegrond, gaan natuurlik eers baie navorsing en berekeninge verg.

Ek hoop u as leser is nou al baie nuuskierig oor wat die idee behels, so laat ek u nie langer aan ‘n toutjie hou nie.

Om die radikale idee te laat werk gaan vereis dat elke entiteit wat ‘n inkomste verdien, maak nie saak wat die tipe inkomste is of hoeveel dit is nie, eerstens:

  • ‘n Bankrekening moet besit (Suid-Afrika beskik oor ‘n sterk bankstelsel en dit behoort nie ‘n probleem te wees dat alle entiteite wat inkomste verdien ‘n bankrekening volgens wet moet besit nie. Ek bring die woorde “volgens wet” in omdat dit essensieel gaan wees dat alle entiteite wat inkomste verdien oor ‘n bankrekening moet besit om die  idee te laat werk)
  • Kontant (papier note en munte) as ‘n betaalmiddel moet stadig maar seker uit faseer word. Rondom dié punt sal daar sekerlik baie besprekings ontstaan of dit tans in Suid-Afrika moontlik sal wees; die negatiewe en positiewe van die voorstel ens.   Ek dink dit is egter moontlik met die tegnologie wat tans bestaan, maar gaan nie verder hieroor uitbrei nie, want dít is ‘n artikel op sy eie.
  • Elke entiteit wat dan ‘n bankrekening het, moet gekoppel word aan ‘n inkomstebelastingnommer, maak nie saak watter tipe inkomste die entiteit ontvang nie.
  • Alle betalings vir goedere of dienste moet geskied via ‘n kaart, selfoon of internet bank.
  • Elke deposito wat gemaak word in ‘n entiteit se bankrekening moet gekoppel word aan ‘n spesifieke inkomstekode. Salarisse van individue sal natuurlik ook gekoppel word aan ‘n spesifieke inkomstekode.
  • Aan elke spesifieke inkomstekode word daar weer ‘n persentasie inkomstebelasting gekoppel volgens die industrie waarin die onderneming hom bevind. Salaristrekkers se persentasie sal ook bv. outomaties WVF insluit en verder sal salaristrekkers se persentasie ook wissel volgens die salaris wat die individu verdien.
  • Sekere deposito’s sal natuurlik onderworpe wees aan ‘n 0% inkomstebelasting.
  • Die bankstelsel word op ‘n wyse met SARS se stelsel geïntegreer deur tegnologie wat reeds bestaan.
  • Die stelsel trek dan outomaties die nodige inkomstebelasting af van alle deposito’s vir die dag en betaal oor in SARS se bankrekening op ‘n sekere tyd, bv. die volgende oggend.  Die bank verhaal outomaties sy bankkoste soos met die regering onderhandel indien daar enige koste sou wees op so ‘n stelsel.
  • Op die wyse ontvang SARS daagliks kontantvloei en dit is amper oombliklik. Daar sal geen uitstaande verskeie tipe belastings wees om te vorder soos op die huidige belastingsisteem nie.
  • Vir die belastingpligtige is dit nie meer nodig om enige tipe belastingopgawe te voltooi en in te dien nie.
  • Die belastingpligtige gaan altyd op datum wees met sy inkomstebelasting op die nuwe sisteem, geen meer boetes en rente nie.
  • Geen oudit/verifikasie van opgawes sal meer nodig wees nie.
  • Die stelsel se doel is om eenvoud te bring op die manier hoe inkomstebelasting deur die regering ingesamel word. SARS het ‘n konstante kontantvloei vanaf die oorgrote deposito’s gemaak op ‘n daaglikse basis.   Elke belastingpligtige kom sy verpligting onmiddellik na soos deposito’s gemaak word.
  • Die stelsel kan in ‘n mate vergelyk word met LBS/PAYE (lopendebetaalstelsel/pay-as-you-earn) t.o.v. werknemersbelasting, maar uitgebrei na alle tipe inkomste en natuurlik baie meer ontwikkeld.
  • Die regering kan beter beplan om sy mandaat van infrastruktuur, beveiliging, opvoeding, gesondheid, maatskaplike dienste ens. teenoor sy landsburgers na te kom.
  • Ten laaste, skrap die huidige verskeie lomp belastingwette en vervang hulle met een nuwe innoverende inkomstebelastingwetgewing, maar hou dit so eenvoudig as moontlik.

 

Ek kan seker vir die lesers ‘n paar voorbeelde gee, maar gaan dit aan u verbeelding oorlaat.  ‘n Enkele voorbeeld wat ek wel wil uitwys, is hoe die stelsel ‘n industrie wat algemeen aanvaar word om nie naastenby sy regverdige deel aan inkomstebelasting te betaal nie, nl. die taxi bedryf, verander kan word in ‘n wetsgehoorsame belastingpligtige.

As kontant nie meer as ‘n betaalmiddel aanvaar word nie, sal elke taxi eienaar gedwing word om ‘n bankrekening oop te maak wat gekoppel gaan wees aan ‘n inkomstebelastingnommer.  Die taxi eienaar se kliënte gaan moet betaal met hul kaarte/selfone deur, bv. net te “tap” op ‘n spesifieke instrument wat  eers ontwikkel moet word vir die taxi bedryf.  Weereens, ek dink die tegnologie en internet verbinding is reeds daar om dit moontlik te maak.  Elke taxi eienaar sal dus elke dag op sy totale inkomste alreeds sy inkomstebelasting betaal.

VRESE OOR DIE OUDIT-, REKENMEESTER- EN BELASTINGBEDRYF SE DOEL IN DIE NUWE BELASTINGSISTEEM

Dit is natuurlik dat u vraag sal wees “Hoe gaan die oudit-, rekenmeester- en belastingbedryf beïnvloed word deur so ‘n nuwe belastingsisteem?”

My eerste antwoord sal wees dat alle ondernemings nog steeds finansiële state moet opstel, aangesien die gebruikers van die finansiële state nie net SARS is nie.  Finansiële state, in die nuwe belastingsisteem, hoef nie meer aan SARS voorsien te word nie, maar die eienaars van ondernemings moet nog steeds weet of hul ondernemings wins maak of nie.  Finansiële state moet nog steeds geouditeer word volgens wetgewing waar nodig.  Kredietverskaffers en banke gaan nog steeds die finansiële state van ondernemings benodig om te bepaal of krediet en lenings verskaf kan word.   Daar gaan moontlik ook deur die rekenmeester ‘n rekonsiliasie/berekening gedoen moet word om te bepaal of die inkomstebelasting wat afgetrek word van die onderneming se inkomste korrek is.  Enige oor- of onder-aftrekkings gaan dan reggestel moet word met SARS en daar sal voorsiening gemaak moet word in die nuwe belastingsisteem vir sulke gevalle.

Die gewone verskillende belastingwerke gaan dus wegval, maar dit gaan volgens my mening rekenmeesters bevry van nakomings-tipe werke en hulle meer tyd bied om hul kliënte met advies by te staan en moontlik ook betrokke te raak by die dag tot dag bestuur van hul kliënt se onderneming.  Dié sluit hulp met interne kontrolestelsels, boekhouding stelsels, strategiese beplanning, opleiding van die onderneming se finansiële personeel ens. in.

SARS personeel gaan natuurlik ook bekommerd wees oor hul poste in so ‘n nuwe belastingsisteem.  Ongelukkig gaan poste volgens my verminder en ander personeel wat oorbly gaan moontlik heropgelei moet word om veral oudit werk te doen om te bepaal of deposito’s in entiteite se bankrekeninge gekoppel is aan die korrekte inkomstekodes ens.  Personeel wat oorbodig word sal moontlik deur ander regering departemente ingeneem moet word en die regering sal moontlik fondse moet bewillig vir heropleiding waar nodig ens.

Inkomstebelastingspesialiste sal natuurlik ook wil weet wat gaan van hulle word in so ‘n nuwe belastingsisteem?   Ek dink inkomstebelastingspesialiste behoort deur die regering aangewend te word om die nodige navorsing te doen op so ‘n nuwe belastingsisteem, asook die nodige berekeninge te doen tesame met  aktuarisse rondom die persentasie inkomstebelasting vir elke tipe inkomstekode.  Na implimentering van die nuwe belastingsisteem, moet belastingspesialiste, sover moontlik, deur die regering in diens geneem word om die stelsel voortdurend te monitor, te verbeter en opleiding te verskaf aan bestaande SARS personeel om sekere tipe oudits te doen.

 

SLOT OPMERKING

Soos vroeër genoem in die artikel, gaan so ‘n nuwe belastingsisteem baie navorsing verg so wel as berekeninge, maar ek glo ons beskik oor die nodige talent in Suid-Afrika om so ‘n radikale verandering te maak.  Die tegnologie is daar om dit alles moontlik te maak, ons benodig net die wil, leierskap en deursettingsvermoë om so ‘n radikale idee ‘n werklikheid te maak.

Die artikel is ‘n klip in die bos om u as leser, hopelik ons regering ingesluit, aan die dink te sit of daar wel ‘n beter oplossing, plan of idee is om inkomstebelasting in te vorder waar almal hul regverdige deel bydra soos inkomste verdien word.

Onthou alle innovasies het begin by ‘n idee, dit is soos ‘n saadjie wat jy plant en jy moet geduldig wees terwyl dit groei en na ‘n tydperk (maande, of selfs jare) sal jy die vrugte pluk.

 

Artikel is geskryf deur Francois du Toit, bestuurder van BVSA Aliwal-Noord in die Oos-Kaap provinsie wat deel vorm van BVSA Bloemfontein (Edms) Bpk.

Francois is alreeds bykans 27 jaar in die rekenmeester-/belastingbedryf, waarvan hy 7 jaar werksaam was by verskeie firmas, 15 jaar sy eie praktyk bedryf gehad het en is die laaste amper 5 jaar deel van die BVSA Groep.

BVSA Aliwal-Noord spits hom veral toe om rekeningkundige en belastingdienste te verskaf aan die klein- en medium grootte ondernemings wat insluit lewendehawe boere.  BVSA Aliwal-Noord verskaf ook ondersteuning aan die entrepreneur wat ‘n nuwe besigheid wil begin.  Francois kan gekontak word by francoisd@bvsa.ltd.

 

 

 

 

Recent Posts
Verified by MonsterInsights