Versekering teen kragstuwing veroorsaak deur beurtkrag
Asof die versekeringsbedryf nie genoeg geld aan ontwrigte huishoudings en besighede moet uitbetaal vir eise veroorsaak deur oproermakers, stakers, brandstigters en klipgooiers nie, is ‘n ander risiko, genaamd beurtkrag, besig om ‘n groot bedreiging vir die hele land in te hou.
Beurtkrag is ‘n realiteit wat vir ‘n onbepaalde tyd met ons gaan wees. Dit het ‘n uiters nadelige uitwerking op veral elektriese en elektroniese toerusting van huishoudings en besighede. Die voortdurende wisseling in kragtoever veroorsaak skade en verlies as gevolg van kragstuwings wat voorkom. Verder lei dit ook tot ‘n toename in inbrake en diefstal weens die feit dat sekuriteitmaatreels soos alarmstelsels buite werking gestel word.
Aangesien verlies en skade veroorsaak deur kragstuwing eerder die reël as die uitsondering geword het, het versekeraars hul kortermynversekeringspolisse uitgebrei om dekking teen kragstuwing veroorsaak deur beurtkrag outomaties vir ‘n beperkte bedrag in te sluit. Vorige dekades was kragstuwings slegs deur weerligslag veroorsaak wat wel ‘n versekerde risiko is, maar tans is ons nasionale kragverskaffer ‘n groter risiko.
Die versekeraar se vergoeding vir hierdie tipe eise is beperk tot die outomaties versekerde bedrag soos in die polisbylae aangetoon. Die eweredigheidsvoorwaarde (onderversekering) is dus nie op die kragstuwing uitbreiding van toepassing nie. Die versekerde sal egter altyd vir die bybetaling, wat gewoonlik ‘n persentasie van die eis met ‘n minimum bedrag, verantwoordelik wees. Meer dekking as die bedrae wat outomaties by die polis afdelings ingesluit word, kan bekom word deur betaling van ‘n addisionele premie. Onder Persoonlike polisse kan die bedrag vir meganiese, elektriese en elektroniese onklaarraking verhoog word. By Kommersiele polisse kan die bedrag onder die onderskeie afdelings waar geboue en inhoud verseker word verhoog word of toerusting kan afsonderlik onder sekere afdelings gespesifiseer word.
Versekeraars plaas meestal ‘n kragstuwingsbeskerming-voorwaarde op polisse. Dit bepaal dat alle geleidende dienste soos byvoorbeeld toepaslike elektriese verdeelborde, kragtoevoerproppe, telekommunikasielyne, datalyne, ens. van stuwingsbeskerming toerusting voorsien word. By gebreke om hierdie vereiste na te kom, sal die versekeraar nie vir enige verlies of skade veroorsaak deur kragstuwing aanspreeklik wees nie. Waar versekerdes van bystand kragopwekkingstoerusting gebruik maak, vereis versekeraars dat sodanige toerusting ook met toepaslike stuwingsbeskerming toerusting toegerus word ten einde kragstuwingsdekking te bly geniet.
Ongeag die versekeraars se stuwingsbeskerming-vereistes, bly dit in die kliënt se belang om voldoende voorsorgmaatreels aan te bring ten einde ontwrigting wat kragstuwing kan meebring te vermy. Dit bly ook belangrik om seker te maak dat u onderskeie polis-afdelings oor voldoende kragstuwingsdekking beskik. Moenie huiwer om u makelaar te kontak vir advies in die verband nie.
Kontak gerus een van ons kundige adviseurs indien u verdere inligting verlang.
Bostaande is slegs ter inligting en is geensins advies nie. Boshoff Visser Konsult Edms. Bpk. raai alle lesers aan om met ‘n kundige finansiële adviseur in verbinding te tree voordat enige besluite geneem word.
Artikels geskryf deur Bert Kleinhans